Die Vereenigingrylaan-padverlenging is ná ’n jaar steeds nie oop vir die publiek nie.
Dié belangrike toegangsroete sou al meer as een keer oopgestel word, maar dit is steeds nie oopgestel nie.
David Mc Kay, DA-raadslid in wie se wyk die brug val, sê hy gaan vandag weer die meer as 2 000 versoekskrifte wat inwoners onderteken het om die roete te laat oopstel, aan die waarnemende uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatsi, oorhandig.
“Daar is beloof dat die brug einde April oopgemaak sal word, en dit is nou reeds 4 Mei en die brug bly toe.”
Mc Kay sê inwoners is afhanklik van die brug om tussen hul huise en werkplekke te beweeg. “Inwoners wil die brug self oopmaak en hulle is bereid om pikke en grawe te neem om die hope grond in Oliver Tamborylaan te verwyder. Ek moet voortdurend inwoners maan om geduldig te wees.”
Hy sê daar is geen rede om die pad steeds toe te hou nie. “Centlec het klaar die straatligte geïnstalleer en die pad kan oopgemaak word terwyl die finale afronding gedoen word,” het hy Woensdag gesê.
Mc Kay sê talle inwoners word gedwing om daagliks ’n ompad van 30 km te ry. “Met die koste van brandstof wat hoog is, kos dit inwoners in die omgewing maklik R1 750 per maand ekstra. Dit is gemiddeld 10% van die inkomste van inwoners in die omgewing,” reken Mc Kay.
Verder word die ompaaie stukkend gery omdat hulle nooit ontwerp is vir sulke hoë volumes verkeer nie. “Bestuurders word gedwing om uit te swaai en dit kan ongelukke veroorsaak.”
Hy sê die ompaaie lei tot erge vullisstorting naby die brug op die Ferreirapad en dit het verander in ’n bymekaarkomplek vir kriminele elemente in die gemeenskap.
“Misdaad in Fauna, Loerierpark en die hoewegebiede het viervoudig toegeneem,” sê Mc Kay.
Hy versoek dat die verbindingspad dadelik oopgestel word.
Bloemnuus het navrae aan Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro gestuur oor wanneer die pad geopen word en sal terugvoer gee sodra enige terugvoer ontvang word.