Dit was aanvanklik Jacques Olivier van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) se idee om met ander verenigings hande te vat en al die verkeerseilande in Walter Sisuluweg tussen Universitas en Gardeniapark en Wilgehof netjies te maak.
Johan Horak van Horak Enterprises, wat die FWA help om al die parkies in dié woonbuurt netjies te hou, het gehelp met die reuseprojek op Woensdag 25 Mei.
Bestuurslede van die FWA, asook van die Gardeniapark-Wilgehof-woonbuurtvereniging (GNA) en die Universitas-woonbuurtvereniging (UWV), en sowat 15 helpers was by toe dié skoonmaak-optrede begin is. Twee trekkers met bossiekappers, asook randsnyers, is gebruik om die lang gras te sny. Daarna is vullis deur vrywilligers en helpers opgetel.
Schalk van Vuuren van die UWV sê die serwituut tussen De Bruynstraat en Ryno Kriellaan is eerste, vroegdag al, skoongemaak.
Daarna het die span by die N1-afrit in Walter Sisuluweg begin en die verkeerseilande al die pad tot by die Dr. Böhmer-vaardigheidskool netjies gemaak.
Hier en daar was minder werk te doen danksy inwoners in die dienspaaie wat die eilande voor hul huis netjies hou.


