Met die infrastruktuur in Bloemfontein wat al jare lank nie behoorlik in stand gehou word nie, het die verkeerstrepe en -tekens van teerstrate in die stad in baie gevalle al heeltemal verdwyn.
Veral wanneer dit erg reën, is dit baie moeilik om te onderskei waar bane is, en bestuurders wat ’n spesifieke pad nie gereeld ry nie, is dikwels onseker van waar draaibane is.
Dit is hierin dat woonbuurtverenigings en ander instansies deesdae ’n baie belangrike rol speel om veiligheid te bevorder.
AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak het op 26 Februarie verkeerstrepe op die hoek van Curlewisstraat en Raytonweg en Dan Pienaar-rylaan oorgeverf om dit meer sigbaar te maak.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, kan onduidelike verkeerstrepe verwarring skep en motorongelukke veroorsaak.
“Ons kan nie net terugsit en toekyk hoe Bloemfontein agteruitgaan weens die munisipaliteit se swak bestuursvermoë nie, daarom het die tak ingegryp om die verkeerstrepe oor te verf. Dit verhoog padgebruikers se veiligheid en verbeter ook die algehele netheid van die paaie,” sê Groenewald.
“Ons gemeenskap se veiligheid word eerste gestel, en ons sal ons bes doen om projekte soos dié volhoubaar te maak. Ons het ook die ondersteuning van die gemeenskap en ondernemings nodig om Bloemfontein weer tot sy volle glorie te herstel.”
Die Rayton-Heuwelsig-tak se buurtwaglede, patrolleerders en brandbestrydingspan was by die projek betrokke.
Groenewald sê die tak is dankbaar teenoor dr. Dirk Kemp wat die verf geskenk het om die projek moontlik te maak.