Verfraaiing inspireer

Ná die sukses van die brugkuns onder Benaderylaan in Gardeniapark wat in 2022 gedoen is, het kunstenaar Liesel Wessels nou ’n volgende projek in oog.


Ná die sukses van die brugkuns onder Benaderylaan in Gardeniapark wat in 2022 gedoen is, het kunstenaar Liesel Wessels nou ’n volgende projek in oog.

Dié keer wil Wessels die Brug van Drome verf. Sy nooi die publiek – van kinders tot bejaardes om kwasse op te neem en op Saterdag 11 Mei hierdie muurkuns aan die brûe in D.F. Malherberylaan te kom skep.

“Ons eerste poging was so suksesvol,” sê Wessels.

“Plaaslike kunstenaars Cézanne Yzelle en Jacobus Silwer het selfs hul musiekvideo vir die liedjie ‘Kyk na die Here’ by dié muur verfilm. Ons het almal genooi om daar te gaan foto’s neem en bewustheid vir dié plaaslike muurkuns te skep.”

Nou is brûe wat baie meer in die publieke oog is, aan die beurt.

Wessels sê die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se departement vir ateljeekuns en ontwerp sowel as die Universiteit van die Vrystaat (UV) se eerstejaar-kunsstudente, het reeds aangedui dat hulle die dag gaan kom help.

Sy sê AfriForum en veral AfriForum Jeug gaan ook betrokke wees.

“Ons het nog baie skenkings nodig om die dag moontlik te maak,” sê sy.

“Ons benodig ’n donkerblou of swart water-basisverf vir die agtergrond, muurverf in vrolike kleure en pastelkleure, verf wat in die nag sal gloei, verfkwaste, swartsakke en skoonmaaktoerusting.

“Ons hoop ondernemings, skole, kerke en ander mense in die gemeenskap sal deelneem in hierdie opwindende projek om die stad mooi te maak.”

Sy sê die agtergrond gaan met ’n donkerbasisverf geverf word en dan gaan almal wat kom verf kolle, sterretjies en spatsels verf.

“Elke merk wat aangebring word, sal dan ’n droom of hoop vir die toekoms uitbeeld. Dit is iets wat die gemeenskap kan saambind.”

Rig navrae oor die projek deur Wessels te bel by 083-400-2864.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.