Mango’s versinnebeeld somer en vakansie. Dis wonderlike vrugte wat heerlik proe in soet- en soutgeregte en die heldergeel kleur van mango’s maak dit beslis die gunsteling op ’n somerpartytjie.
Die eerste mango’s wat dié somer op die winkelrakke verskyn, is Tommy Atkins-mango’s.
Later in die seisoen van Februarie tot April is Kent- en Keitt-mango’s beskikbaar. Hierdie mango’s se skil is groen, selfs al is hulle ryp. Voel of ’n mango ryp is deur liggies te druk. As dit effe meegee, is dit ryp en as die vrug ferm bly, is dit nog nie ryp en kan dit ’n paar dae teen kamertemperatuur gelos word om ryp te word.
Mango’s beskik oor baie vitamien A en C, biotien en mineraal-kalium. Dié vrugte is ook ’n goeie bron van vitamien B1 en B6 en het geen vet, natrium of cholesterol nie.
Hier is twee lekker resepte vir mango’s hierdie vakansie:
Gevriesde mango-en-lemmetjie margaritas
Genoeg vir 2 tot 4 mense
Jy benodig
- 50 g suiker
- 1 lemmetjie, gehalveer
- 1 mango, geskil, ontpit en opgesny
- 60 ml (¼ koppie) vars lemmetjiesap
- 125 ml (½ koppie) tequila
- 60 ml (¼ koppie) triple sec-likeur
- 30 ml (2 eetlepels) loperige heuning
- ysblokkies
- Vars ment
Metode
Gooi die suiker in ’n klein bordjie. Maak die glase waarin jy die margaritas gaan bedien se randjies nat met die lemmetjie en doop dit in die suiker.
Gooi die mango, lemmetjiesap, tequila, triple sec en heuning in ’n menger en meng tot dit ’n fyn, gladde mengsel is.
Gooi ys in die mengsel totdat dit ’n lekker dik mengsel is, en gooi in die glase. Versier met ment en bedien dadelik.
Tortilla chips en mango-guacamole
Bedien 4 mense
Bestanddele:
- 1 ryp avokado, geskil, ontpit en in blokkies gesny
- 200 g vars mango, geskil, ontpit en in blokkies gesny
- Sap en skil van een lemmetjie
- ½ rooi ui, fyngekap
- ½ rooi soetrissie, ontpit en fyngekap
- 30 ml (2 eetlepels) vars koljander, opgekap
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 1 rooi rissie, ontpit en fyngekap
- sout en peper na smaak
Metode:
Meng al die opgekapte bestanddele saam en bêre in die yskas vir ongeveer 20 minute sodat die geure kan meng.
Bedien op tortilla chips.