Wanneer die temperature hier by 30 °C rond kuier, is niemand lus vir warm kos nie.

Hier is ’n maklike, verfrissende slaai van Ilse van der Merwe vir daardie warm somermiddae.

Al wat jy nodig het, is salm of forel. Dit saam met ’n yskoue glas witwyn is net die ding om lekker af te koel.

Die resep is genoeg vir vier mense en dit kan binne 10 min voorberei word as die vis gereed is.

Jy benodig:

* 1 bossie bronslaai (watercress), skoongespoel

* ½ komkommer, geskil en in dun repies gesny

* 1 vinkelbol, fyn opgekap

* 200 g koue gerookte salm of forelstroke

* 100 g gekrummelde ricottakaas,

* ’n handvol kappertjiesaad

* vars uitgedrukte suurlemoen

* Olyfolie

* varsgemaalde peper en sout na smaak

Maak so:

Pak in ’n groot slaaibak of op vier aparte borde die bronslaai, pak die komkommer-stukke, vinkel, dan die salm of forel en bo-oor die ricotta en kappertjies. Bedrup dit met die suurlemoensak en olyfolie asook die sout en peper na smaak.

Bedien die slaai met Spier se 21 Gables sauvignon blanc wat bekend is vir sy smaak van vars gras. Die kruiesmaak van die bronslaai kombineer heerlik met die sauvignon blanc.

You need to be Logged In to leave a comment.