Die maatskaplike nood in die Vrystaat verhoog jaarliks en mense se behoeftes raak al hoe meer.
Só meen die uitvoerende hoof van Engo, De Wet Claassens, ná Engo se algemene jaarvergadering wat Vrydag (18/08) by Summerwood aangebied is.
Claassens sê vir hom was die grootste hoogtepunt van die afgelope jaar, die groot uitdagings.
“Dikwels weet jy nie hoe jy uit ’n storm gaan kom nie, maar in daardie tawwe situasies beleef jy die nimmereindigende vrede van Jesus en jy is ‘ok’, want Hy sorg altyd. Daardie uitdagings bou karakter.”
Claassens sê die platteland gaan veral agteruit en Engo se programme daar trek swaar weens beperkte hulpbronne.
“Ná die suksesvolle Nawongo-hofsaak is Engo regtig opgewonde om saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling die toekoms aan te pak en ’n verskil te maak in die Vrystaat, om hoop te bring in die lewe van ander.”
“Ongelukkig is die befondsing vanaf die staat en die Vrystaatse Kerk nie voldoende nie, daarom bly Engo afhanklik van donateurs en vrywilligers om die spesiale diens te lewer.”
Personeel van al Engo se kantore oor die Vrystaat heen asook vrywilligers, het Vrydag die vergadering bygewoon.
Dié personeel versorg meer as 200 000 kinders, behoeftige gesinne, bejaardes, gestremdes en pasiënte in die provinsie.
Engo is die grootste liefdadigheidsorganisasie van sy soort in die Vrystaat en die naasgrootste in Suid-Afrika.
Die organisasie het vanjaar 852 kinders in 33 kinder- en jeugsorgsentrums in die Vrystaat versorg.
’n Bykomende 39 313 kinders in gemeenskappe in die provinsie is voorsien met kos en klere.
Die tien gesinsorgkantore oor die Vrystaat heen bedien en ondersteun 47 470 volwassenes en kinders met basiese behoeftes, statutêre en voorkomingsdienste.
Engo het die afgelope jaar 2 852 bejaardes in 20 bejaardesorgsentrums in die provinsie versorg en ondersteun. Daar is ook demensie-eenhede in Hoopstad en Bloemfontein.
In Bethlehem en Viljoenskroon word 30 volwassenes met gestremdhede versorg.
Daar is 39 kinders danksy Engo aangeneem, waarvan twee internasionale aannemings was. Engo verskaf ook hulp met herkomsnavrae, wanneer kinders of ouers hulle biologiese familie wil opspoor.
Engo se hospitaalsorgprogram het vanjaar 24 058 mense digitaal en persoonoonlik met geestelike versorging bygestaan.