Ná drie jaar waarin dit nie moontlik was nie, bied die Bloemfontein-teatergemeenskap vanjaar weer ’n spesiale toneelstuk gemik op Paasfees aan.
Die verhaal van Christus en Paasfees is al talle keer opgevoer en verfilm, maar vanjaar beoog die toneelstuk Daar is die Lam om hierdie ikoniese verhaal van die kruisiging van Jesus in ’n nuwe lig aan Bloemfontein se gehore te bring.
Die vertoning is op 10 en 11 Maart in die Sand du Plessis-teater.
Ebeth Wilson van dié groep sê die verhaal uit die pen van bekende skrywer Maretha Maartens bring die verhaal van Jesus van Nasaret tot lewe.
“Die verhaal word vertel soos gesien uit die oog van ’n hedendaagse familie en die tradisie en emosies van die tyd van Christus word beskou en bespreek.”
Professionele akteur Peter Taljaard speel ook vanjaar in die produksie.
Nic Beukes en CW Laten, oud-spelers van Passiespele en bekende name in die Bloemfontein-teatergemeenskap, durf die teks vanjaar aan as regisseurs, met die oog om hierdie ongelooflike verhaal tot al sy glorie te bring en tot nuwe hoogtes te neem.
“Die Passiespel is ’n verhaal van liefde en oorwinning en net deur hierdie verhaal met eerbied en respek te hanteer, sal ons kan slaag in ons doel om ’n ongelooflike ervaring te skep vir oud en jonk,” sê Wilson.
“Dit is ons visie om die verhaal van Christus groter te doen as ooit tevore en om gemeenskapsteater aan te pak met dieselfde erns en passie wat ’n mens in professionele teatergroepe sal vind. Dit is ons missie dat die produksie so professioneel en sterk as moontlik sal wees, sodat elkeen wat dit beleef sal kan verstaan hoekom dit ’n verhaal is wat oorvertel moet word.”
Die verhoogstuk word aangepak met die hulp van Pacofs en die ATKV in samewerking met Radio Rosestad en Bloemfontein se Gemeenskapsteatergroep.
Die vertonings is op Vrydag 10 Maart om 19:00 en op Saterdag 11 Maart om 11:00 en 19:00 te sien.
Kaartjies is teen R100 op webtickets.co.za beskikbaar.