Verkeerdevlei-skriba steel kollekte

’n Vrou van Verkeerdevlei is Donderdag (24/08) in die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind en gevonnis vir bedrog wat sy gepleeg het terwyl sy in diens was van die NG kerk Verkeerdevlei.


’n Vrou van Verkeerdevlei is Donderdag (24/08) in die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind en gevonnis vir bedrog wat sy gepleeg het terwyl sy in diens was van die NG kerk Verkeerdevlei.

Die hof het bevind Margareth Elizabeth Grobelaar Borman (48) wat as skriba van dié kerk gewerk het, betrokke was by bedrog wat daartoe gely het dat die kerk ’n verlies van meer as R200 000 gely het.

Volgens ’n verklaring van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoeke (Valke) het die NG kerk Verkeerdevlei se finansiële kommissie in 2018 ’n rekenmeester aangestel om ’n oudit van die kerk se finansies tot einde Februarie 2018 te doen.

Die voorlopige oudit het bevind dat Borman nie al die geld wat met dankoffers ingesamel is, in die kerk se bankrekening inbetaal het nie. Die ondersoek het bevind sy het persoonlike aankope gedoen sonder die toestemming van die kerk en sy het soms dubbeld haar salaris geneem.

Die bedrog het tussen 2014 en 2018 plaasgevind.

Die saak is oorhandig aan die Valke se kommersiële misdaadondersoekspan in Bloemfontein wat die saak verder ondersoek het.

Die hof het Borman gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat sy nie weer in dié tyd ’n soortgelyke ’n oortreding begaan nie.

Sy moet ook R147 000 aan die kerk terugbetaal – R81 000 wat sy voor 30 November vanjaar moet betaal en die res wat sy maandeliks met paaiemente van R2 000 per maand vanaf 7 Januarie 2024 moet betaal totdat die hele bedrag betaal is.

Sy mag ook nie meer ’n vuurwapen besit nie.

Die Vrystaatse hoof van die Valke, maj.genl. Mokgadi Bokaba, waarsku mense wat met geld toevertrou word om binne die wet te bly, omdat daar teen hulle opgetree sal word as hulle bedrog pleeg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.