Twee provinsiale verkeersbeamptes is vanoggend (22/04) om 11:00 in hegtenis geneem nadat hulle na bewering R1 500 se omkoopgeld van ’n motoris by Bultfontein geëis het.
Die verkeersbeamptes, ’n man (32) en ’n vrou (45), is op die R700-pad in die rigting van Bloemfontein voorgekeer nadat hulle na bewering ’n inwoner van Bultfontein voorgekeer het en R1 500 geëis het voordat die motoris weer kon verder ry.
Die Welkom K9-eenheid, ao. Bones Benecke en die Bloemfontein K9-eenheid het die verkeersbeamptes voorgekeer en deursoek.
’n Kontantbedrag van R1 500 is in hul besit gevind. Die twee wat in ’n gemerkte BMW van die provinsiale verkeersdepartement gereis het, is in hegtenis geneem en sal Maandag (25/04) op ’n klag van korrupsie in die Bultfontein-landdroshof verskyn.