Verkeerspolisielid vas weens omkoopgeld

’n Bloemfonteinse verkeersbeampte gaan tronk toe nadat hy aan korrupsie skuldig bevind is.


’n Bloemfonteinse verkeersbeampte gaan tronk toe nadat hy aan korrupsie skuldig bevind is.

Tshiya Desmond Pule (43) is op Maandag 15 April in die landdroshof in Bloemfontein op twee aanklagte van korrupsie tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die skuldigbevinding volg op ’n klag wat ’n motoris op 29 Augustus 2017 gelê het dat Pule R500 van haar geëis het om te voorkom dat sy weens ’n verkeers­oortreding in hegtenis geneem word.

Ná verdere ondersoek is bevind dat Pule ook R1 500 van nog ’n slagoffer geëis het.

Lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder in die Vrystaat, sê lede van Bloemfontein se ondersoekeenheid gemoeid met ernstige korrupsie het bewyse versamel wat tot Pule se inhegtenisneming gelei het.

Pule het ’n paar keer in die hof verskyn voordat hy Maandag gevonnis is.

Hy is vyf jaar gevangenisstraf vir elke klag van korrupsie opgelê, wat gesamentlik uitgedien word sodat hy effektief vyf jaar agter tralies sal deurbring.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Maj.genl. Mokgadi Bokaba, Vrystaatse hoof van die ondersoekeenheid gemoeid met ernstige misdaad, oftewel die Valke, het die speurders vir hul harde werk geloof.

“Ons is ook dankbaar vir diegene wat die korrupsie aangemeld het,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.