Dit is maar ’n grillerige idee dat plante insekte vreet.
Hoe werk dit?
Het plante dan tande en ’n maag?
Wat gebeur met die insekte?
Hoe vang plante insekte as hulle nie soos ander karnivore kan beweeg nie?
Maak die natuur vir kinders interessant deur vir hulle die geleentheid te gee om karnivoorplante te ondersoek en self die antwoorde vir hierdie vrae te vind.
Wetenskaplikes, bioloë en liefhebbers van allerlei grillerige goeters kan gerus meer leer oor hoe hierdie interessante plante werk.
Karnivoorplante of inseketende plante kry hul voedingstowwe deur insekte te vang en te eet. Hierdie soort plante is deur eeue se evolusie ontwikkel en is aangepas om te oorleef in stikstof-arm grond.
Volgens Life is a Garden is daar meer as 600 spesies van inseketende plante oor die wêreld heen – waarvan mense weet.
Die dodelikste duiwels wat die perfekte kandidate vorm om gedissekteer te word, sluit in:
Doublom (Drosera capensis, sundew in Engels)
Die doublom gee ’n klewerige stof af wat insekte en klein goggas nader lok. Die plant sluk die insek deur middel van ’n web van klein tentakels en verteer die insek deur ensieme in die plant se stam en blare.
Die Venus-vlieëvanger (Dionaea muscipula)
Dié plant is waarskynlik een van die bekendste en gewildste vleisvretende plant. Die plant het gevaarlike kake waar die slagoffers agter tande vasgekeer word nadat hulle geval het vir die soet nektar wat prooi na die plant lok. Ensieme in die plant absorbeer die insek se sappe in ’n voedsame sop vir die plant.
Amerikaanse trompet-plant (Sarracenia)
Die oulike, tonnelagtige blommetjie van die plant lok insekte met ’n nektar-agtige uitskeiding na die bopunt van die blare. Ongelukkig vir die insekte, is die nektar giftig en val insekte wat dit inkry, in die buis af
Die tropiese trompet-plant (Nepenthes)
Nog ’n plant wat insekte kul op baie dieselfde manier is dié tropiese plant wat insekte met ’n soet nektar nader lok. Die prooi gly dan op die rand van die plant en val in ’n poel klewerige, suur vloeistof waarin die arme insekte verdrink.
Om meer te leer oor hoe karnivoorplante werk, benodig jy die volgende:
- ’n Karnivoorplant (wat jy by die meeste kwekerye kan kry);
- ’n kriek of ander klein insek (lekker kossies);
- ’n skêr;
- ’n skerp mes; en
- ’n vergrootglas om mooi te kan sien.
Voer die eksperiment só uit:
Benader die plant versigtig en bring die prooi wat jy het as ’n vredeoffer. Doen eers navorsing oor die manier waarop jou plant die gogga vang en vreet, en plaas die insek op die regte plek.
As jy sien die plant het die lokaas gevang, wag so ’n uur sodat goeie spysvertering kan plaasvind.
Sny die plant naby die basis met die skêr af.
Gebruik die mes om ’n sny teen die stam af te maak – van die blaar of blom tot by die basis van die stam. Maak die stam versigtig met jou vingers oop.
Neem die vergrootglas en kyk na die insek se ekskoskelet. Jy behoort die insek wat die plant geëet het en nog ’n paar uit vorige maaltye daar binne te sien.
As jy self van hierdie vleisvretertjies wil plant, maak seker jy weet hoe hou hierdie plante van die grond waarin hulle geplant moet word. Hulle floreer in grond wat nie baie vog, maar redelike suurinhoud het. Dit motiveer die plant om sy stikstof by insekte te soek.
Om vir ’n karnivoorplant te sorg, is amper soos om ’n eksotiese troeteldier te hê. Hulle benodig meer aandag as jou gewone potplant.
Belê in ’n paar van hierdie plante vir die kinders en wag geduldig om te kyk wat die plant volgende . . . . verorber!