Dit is nie net Jeugdag wat op Maandag 16 Junie herdenk is nie – dit was ook op dié dag 125 jaar gelede dat die Verskroeideaardebeleid, wat daartoe gelei het dat plaashuise afgebrand is en vroue en kinders na konsentrasiekampe weggevoer is, ingestel is.
Die beleid is op 16 Junie 1900 deur lord Roberts van Brittanje ingestel nadat hy ‘n plan beraam het om die oorlog teen die burgers, wat veel langer geduur het as wat die Britte verwag het, te beëindig.
Hoewel Britse soldate in groot getalle na Suid-Afrika gekom het om teen die plaaslike inwoners te veg, het die kommando’s talle suksesse behaal omdat hulle by plaaswonings aangegaan het om voedselvoorraad te kry. Só kon hulle lang tye in die veld oorleef.
Die beleid het behels dat alle plaashuise in die Boererepublieke afgebrand word en vroue en kinders na konsentrasiekampe weggevoer word.

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke herdenk die tragiese gevolge van die beleid met ‘n kunsuitstalling wat Maandag geopen het.
Die uitstalling Vuur en trane: Die smeulende kole van trauma en lyding is ‘n uitbeelding van vroue en kinders se ervaringe, met objekte en die gebruik van tegnologie om die storie te vertel.
‘n Ryke nalatenskap
Dr. Vicky Heunis sê wat merkwaardig is, is dat een van die eerste kampe wat in die Anglo-Boereoorlog tot stand gekom het, juis die een in Bloemfontein is. Die kamp is in Augustus, kort ná die aankondiging van die beleid, ingerig.
Braedon van Rooyen van die Oorlogsmuseum het hard gewerk om al die kampe wat in dié tydperk in Suid-Afrika was, op ‘n kaart aan te dui – met ‘n interaktiewe funksie met foto’s van die kampe.
Op ‘n ander toepassing is meer inligting oor die kampe aangedui. Hy het foto’s van die terreine van destyds en ook hoe dit vandag lyk.
“Ek het nie geskroom om foto’s te gebruik waar die terreine erg verwaarloos is nie,” sê hy.
“Ek wys met foto’s vir besoekers hoe dit vandag lyk. Sommige, soos die monument waar die kamp was in Irene by Pretoria, word mooi onderhou. Ander is vervalle.”
Heunis sê die fokus is nie slegs op konsentrasiekampe nie, maar ook op deurgangskampe waar vroue en kinders tydelik gebly het, asook kampe waar mans gehou is.

“Sommige van die kampe was beter as ander, omdat administrasie beter was. Van die dodelikste kampe waar groot getalle vroue en kinders gesterf het, is dié van Bloemfontein, Bethulie en Brandfort,” sê sy.
Kunswerk in uitstalling
Een van die besonderse kunswerke in die uitstalling is die hout-standbeeld deur Kaapse kunstenaar Jacques Müller. Dit is een van 25 opdragwerke wat spesiaal gemaak word vir die 125ste herdenking van die Anglo-Boereoorlog in die Oorlogsmuseum.
Müller skep beelde uit hout met ‘n kettingsaak en brand daarna die beelde met ‘n eeue oue Japanese tegniek, Yakisugi. Dit is as ‘n tradisionele metode gebruik om hyoutoppervlakte by tradisionele Japanse huise te beskerm sonder om chemiese middels te gebruik.
Die beeld wat hy vir die Oorlogsmuseum gemaak het, se naam is “Gogo Pray”. Gogo, wat ouma in Zoeloe beteken, word gebruik word om respek vir ‘n ouer vrou te betoon.
Müller het die beeld met ‘n kettingsaag uit ‘n eikestomp gesny. “Sy beeld smart en wanhyoop van die vroue en kinders wat in die swart konsentrasiekampe omgekom het, uit,” verduidelik hy.
“Sy staan op haar knieë, moedeloos, magteloos, hande om hoog in ‘n soeke na desperate vertroosting van Ons Hemelse Vader,” sê hy.
Die Vuur en trane-uitstalling in die museum se kunsgalery kan vir die volgende paar maande besigtig word.
You must be logged in to post a comment.