In die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se nasionale geskiedenisolimpiade het leerlinge van oor die land heen hul liefde vir geskiedenis getoon in toetse wat aanlyn voltooi is.
Dit is boonop die derde jaar dat die FAK Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade aangebied is, vir laerskole en hoërskole, met onderskeidelik die Pionierstydperk (1652 tot 1820) en die Groot Trek-tydperk (1820 tot 1845) as temas.
Altesaam 49 hoërskool- en 225 laerskoolleerlinge het deelgeneem.
Chrisna Nel, organiseerder van die geskiedenisolimpiade, sê sy is trots op wat die kinders vanjaar vermag het en sy is opgewonde om te sien dat kinders nog ’n liefde vir geskiedenis het, al leer hulle nie meer baie van Afrikanergeskiedenis op skool nie.
“Ons wil kinders aanmoedig om meer te leer van hul geskiedenis. Dit leer hulle waar hulle vandaan kom en wie die grondslag gelê het vir vandag. Dat hul so ywerig deelneem en goed presteer, maak ’n mens weer trots op jou eie geskiedenis.
“Die historikus F.A. van Jaarsveld waarsku tereg: ‘As ’n volk sy geskiedenis verwaarloos verdwyn sy bodem onder hom,’ en kompetisies soos hierdie gee ’n mens weer hoop dat die bodem nie sommer gou onder ons sal verdwyn nie,” sluit sy af.
Simoné de Witt, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Fichardtpark wat tweede in die senior afdeling van die kompetisie was, het op haar beurt Nel se woorde geëggo en sê dat haar ervaring van vanjaar se olimpiade haar net weer laat besef het hoe waardevol geskiedenis is as ’n les uit die verlede en ’n baken van hoop vir die toekoms.
“Ek het net weer besef dat om geskiedenis lewend én toepaslik te hou, jy verantwoordelikheid moet neem om te weet waar jy en jou kultuur vandaan kom,” meen sy.
“As jy nie jou geskiedenis ken nie, hoe kan jy weet waarheen jy op pad is?
“Vanjaar was my laaste jaar van deelname. Dankie aan die FAK vir die geleentheid en voorreg om aan hierdie olimpiade te kon deelneem.”
Dirk Hagen, van die Hoërskool D.F. Malan was die algehele wenner in die senior afdeling en Elzaan Herman van die Afrikaanse Hoër Meisieskool was derde.
Dirk meen op sy beurt dat vanjaar se olimpiade ’n lekker uitdaging was én dat hy glo dat almal wat deelgeneem het baie waarde daaruit sou put.
“Winston Churchill het gesê dat hoe verder jy in die toekoms wil sien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk – en ek dink dit is werklik iets waaraan ek en die jonger geslag kan vasklou; die lesse uit die verlede.”