Die versoeking is soms net te groot om jou te verlustig in die heerlike gebak van The Cake Café. En hoekom nie?
Die heerlike koeke wat Juanita du Plessis weer op Saterdag 3 Junie by haar stalletjie op die Franse Wintermark gaan hê, is gebak met liefde.
“Ek het nooit geleer om in my ma se kombuis te bak nie,” vertel sy. “Sowat 40 jaar gelede het ’n vriendin vir my ’n wortelkoekresep gegee. Die koek het baie mooi uitgekom en net daar is my liefde vir bak gebore.”
Juanita vertel sy het aanvanklik net vir familie-geleenthede gebak, maar toe begin haar vriendinne se bestellings vir haar koeke inrol.
“Ek het wel huishoudkunde op skool gehad en het die bakgedeelte baie geniet, maar ek het nooit enige bakkursusse bygewoon nie. Vir my was bak die een toetslopie ná die ander met resepte wat ek self uitgewerk het.”
Sy sê sy het al baie jare daaroor gedroom om ’n klein koekkafee oop te maak, maar nooit die geleentheid gekry nie.
“My familie het my aangemoedig om my koek-onderneming te begin, en so is The Cake Café gebore. Ek het eers net op my Facebook-blad en Instagram foto’s van my koeke geplaas en toe begin bestellings van die publiek inkom.”
Sy vertel dat haar dogter in 2021 voorgestel het dat sy aansoek doen om uit te stal op die Franse Mark.
“My eerste stalletjie was op die Kersfeesmark en al my voorraad is daar uitverkoop. Van toe af het ek deelgeneem aan elke Franse Mark, wat vir my baie goed werk.”
Haar stalletjie in die kapel is volgens haar op die perfekte plek.
“Soveel mense wat my by die mark ondersteun, het nou vriende geword. Ek is so opgewonde oor die toekoms van The Cake Café,” sê sy oor haar onderneming.