Daar is altyd iets nuuts en interessant waarin besoekers hulle kan verlustig op die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.
Op die eerste Franse Mark vir 2024 wat Saterdag 2 Maart om 07:30 begin, kan besoekers ’n besonderse lekkerny leer ken.
Elbé Groeneveld van die tuisonderneming Daetry sê hul soet dadelstroop is ’n stapel-lekkerny in hul huis wat graag oor alles en nog wat te ete is, gegooi word.
“Ons gesin baklei oor wie die lepel mag aflek,” vertel sy oor die produk.
Sy vertel hul liefde vir dadelstroop het ontstaan toe hulle ses jaar gelede na Abu Dhabi getrek het. “Tydens die Covid-grendeltydperk was ons onbeplan vir 10 maande in Suid-Afrika vasgekeer en my man se verlange na dadelstroop het verander in ’n onderneming.
“Lumardt was so lus daarvoor, dat hy gesê het hy gaan dit self maak omdat ’n mens dit nêrens anders in Suid-Afrika kan kry nie. Ons het gelag en nie veel daarvan gedink nie, totdat hy tot ons verbasing die eerste pot dadelstroop gemaak het. Daetry is gebore.”
Elbé sê hulle is passievol daaroor dat hierdie produk wat 100% natuurlike is, slegs bestaan uit Suid-Afrikaanse dadels, water en baie liefde. “Ons voeg geen ekstra suiker of preserveermiddels by nie. Dit word handgemaak en ons bottel dit self. Die dadelstroop is uiters veelsydig en het ’n diep, ryk smaak soos soet karamel-molasse. Dit kan enige suiker of versoeter vervang. Dit werk heerlik in gebak asook bedruip oor roomys of jogurt.
“Ons eet dit graag in die oggend oor pap of in yskoffie. Dit is ’n groot gunsteling oor plaatkoekies en wafels. Probeer dit gerus in jou soetpampoen of selfs oor ’n gebraaide lamsbout of skaaprib.”
Elbé sê haar kinders eet die stroop graag net so oor ’n broodjie of muffin en dit werk in nagereg, beskuit en koekies ewe goed.
Rig navrae by hello.daetry@gmail.com.
Die produk is nie net soet én lekker nie, dit is baie goed vir energie. “Ons beplan nog om die stroop in klein energie-sakkies te verkoop wat atlete tydens wedlope kan oopskeur en drink.”
Die Franse Mark begin môre om 07:30 en gaste kan tot 15:00 tussen die binne- en buite-stalletjies drentel en hulle verlustig in ’n verskeidenheid handgemaakte produkte.
Daar is ook heelwat te eet en te drink soos onder meer mikro-bier en heerlike gebak, en sitplek om te kuier.
Toegang kos R40 en bejaardes ouer as 60 jaar betaal R40, kinders gr. 1 tot gr. 7 betaal R10 en jonger kinders se toegang is gratis.