Ná die lang, koue winter kom al die vrolikheid rondom lente . . . maar gepaard daarmee kom ook ’n groot genies.
Dikwels lei die talle bloeisels en plante wat ontkiem tot meer genies as glimlagte.
Mario Correia, handelsmerkbestuurder van Karvol, sê lente is beslis die tyd van die jaar waarop daar heelwat meer stuifmeel in die lug is.
In Bloemfontein is die algehele vlakke van boomstuifmeel hoog wat daartoe lei dat meer as 90% van mense wat allergieë het, simptome daarvan sal toon. Volgens The Real Pollen Count, ’n webwerf waarop Bloemfontein se stuifmeelvlakke ook aangedui word, moet mense wat baie allergies is vir stuifmeel en mense wat simptome het van asma, hul buitemuurse aktiwiteite liewer nou beperk.
“Een van die beste maniere om die simptome van allergieë in toom te hou, is om voorbereid te wees. Dit is onnodig om te daaronder te ly. Wanneer jy die simptome beheer, gaan jy beslis makliker deur die dag kom.”
Van Correia se wenke om allergieë onder beheer te bring, sluit in:
- Hou vensters toe in die dag. Stofsuig en stof jou meubels gereeld af. Stof en allergene kan oral ophoop en kan ook met jou skoene en troeteldiere die huis binnekom.
- Was jou beddegoed een keer per week in warm water.
- Hou antihistamiene byderhand. Gebruik tablette of ’n kamersproei wanneer jy gaan slaap en ook bedags sodat jy makliker kan asem haal.
- Hou jou deure dig met spesiale stroke om te keer dat allergene die huis binnekom. ’n Matjie by buitedeure kan ook help om allergene uit die huis te hou.
Die Allergiestigting van Suid-Afrika, het ook ’n paar wenke vir allergieë:
- Weet wat jou allergie veroorsaak. Voordat jy iets drasties doen soos om na ’n ander streek in die land te verhuis, gaan sien iemand wat in allergieë spesialiseer. As die oorsaak van jou allergie geïdentifiseer is, kan die regte medisyne voorgeskryf word.
- Weet wat die stuifmeeltelling in jou omgewing is. Met hierdie inligting, is jy voorbereid wanneer jy jou huis verlaat.
- As jy reis, vind meer uit oor die stuifmeelvlakke by jou bestemming. Nie alle dele van Suid-Afrika word ewe erg geraak nie. Ongelukkig is Bloemfontein se tellings van sekere stuifmeel hierdie tyd van die jaar redelik hoog, en die somer met blommende grasse kom nog.
- As jy ly aan seisoenale allergieë, verminder die impak soveel as moontlik. Hou jou motor en huis se vensters toe en kies liewer vetplante vir binne die huis. Dra ’n gesigmasker wanneer jy gras sny. Jy kan ook baat vind deur jou klere gedurende die seisoen waarin stuifmeel volop is, binne droog te maak.
“As jy alles probeer het en niks blyk te werk nie, vra jou dokter of daar toetse is wat jy kan ondergaan. Net omdat jy aan allergieë ly, beteken dit nie jy moet ophou om die lenteweer te geniet nie. Wees voorbereid en doen alles wat jy kan om allergiese reaksies te beperk,” stel Correia voor.