Wetstoepassers breek die stalletjies in Universitas af.Foto: Verskaf


Een van die woonbuurt Universitas se grootste knelpunte is gepak toe die Mangaung-metro se wetstoepassingsbeamptes Maandag (07/08) onwettige stalletjies in Paul Krugerlaan afgebreek het.

Inwoners sê die eienaars van die stalletjies terroriseer die inwoners en hulle moet gereeld self skoonmaak waar die stalletjie-eienaars en klante mors. DA-wyksraadslid Hennie van Niekerk sê dit is wonderlik dat die metro uiteindelik ingegryp het.

Hy sê sewe stalletjies is Maandag verwyder, maar Dinsdag was die Azania-stalletjie op die hoek van Paul Kruger en Kristalstraat weer terug. Die wetstoepassingsbeamptes het teruggekeer en saam met die polisie die stalletjie afgebreek.

Kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, sê niemand is by die stalletjies in hegtenis geneem nie en daar was ook geen dwelms by die stalletjies nie.

“Dit is een van die gebiede waar die polisie gereeld patrollie ry omdat die omgewing daarvoor bekend is dat daar met dwelms handel gedryf word.”

Van Niekerk sê die smouse oornag in Jim Fouchépark agter die Spar-winkelkompleks.

“Die inwoners moet gereeld hier vullis opruim. Hier is ook gereeld komberse en koshouers in die parkie”.

Van Niekerk sê dit is goed dat die metro se amptenare saam met die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum werk om kriminele elemente uit Universitas te verwyder.

“Ons hoop die omgewing sal nou skoner en veiliger wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.