’n Prima-blokfluit-ensemble uit Europa is op pad om hul plek op die verhoog in Bloemfontein in te neem.
Element of Prime bestaan uit vyf begeesterde musici wat meesters is in die “herontdekking” van vroeë musiek én eksperimentering met kontemporêre style.
Enigeen wat op die instrument neersien, sal ’n nuwe deuntjie sing as hulle ’n uitvoering deur Element of Prime bygewoon het.
Een van die lede is die Suid-Afrikaner Carin van Heerden wat ná skool blokfluit en barokhobo in Nederland en Duitsland studeer het.
Van 1993 was sy ’n blokfluitdosent aan die Mozarteum in Salzburg en van 2010 tot 2019 hoof van die Instituut vir Vroeë Musiek en Uitvoeringspraktyk aan die Private Universiteit Anton Bruckner in Linz, Oostenryk.
In 2015 het sy en Magdalena Rath, Domenika Thanner, Veronika Traxler en Michaela Vaught die blokfluit-ensemble aan dié universiteit gestig en sedertdien talle slypskole, meesterklasse en konserte gegee.
Hulle het onder meer deelgeneem aan die Donau-fees in Strudengau, op die Oostenrykse nasionale radio gespeel en kort voor die Covid-19-pandemie het hulle met ’n opleidingsprogram deur Oostenryk gereis.
Element of Prime begin hul Suid-Afrikaanse besoek met ’n simposium en uitvoerings op 14 en 15 Februarie in Bloemfontein.
Drie konsertprogramme is vir die besoek aan Suid-Afrika voorberei – Wicked Tongues, Most Delicate Musicke en Nightwatch. Eersgenoemde word in Bloemfontein opgevoer.
Volgens die Kerk van Engeland het alle kuns in die 16de eeu tot sonde gelei.
Die bevolking is dus ernstig aan bande gelê en miskien is dit juis weens ’n teenstand teen die streng beperkings dat ’n nuwe artistieke krag die Renaissance-werke gekenmerk het.
Volgens Element of Prime kombineer hulle die “mees indrukwekkende vakmanskap van die vroeë komponiste met die melancholiese gemoed van die Engelse in daardie tydperk in die Britse geskiedenis”.
Wicked Tongues sinspeel darem nie op boosheid nie, dit is eerder ’n spel van onnutsigheid waarin die musici demonstreer waartoe die mense se mond en tong in staat is.
“Ons praat, sing, soen met ons mond. Ons proe, fluit, skel, verlei, flankeer . . . en speel die blokfluit met ons mond en tong,” vertel hulle.
In die program toon die ensemble talle aksies en vaardighede van die mens se mond.
Die goue draad deur die program is ’n komposisie van die Oostenrykse komponis Helmut Schmidinger, wat onderbreek word deur Renaissance-werke om die kuns en vlytigheid van blokfluitspel te demonstreer.
Slypskole en meestersklasse is Woensdag (14/02) aangebied en word vandag voortgesit.
Dit is gemik op onderwysers en studente.
Wicked Tougues word vandag (15/02) om 19:00 in die Odeion-ouditorium aangebied. Toegang is gratis.