Die wintervakansie lê om die draai, maar anders as die vorige twee jaar, wag ’n lekker feestelikheid op Bloemfonteiners en besoekers.
Die Vrystaat Kunstefees vier in 2022 sy 22ste bestaansjaar, beslis iets wat behoorlik gevier gaan word ná die twee jaar van aanlyn vertonings en uitdagings weens die pandemie.
Die hooffees met al die verskillende aktiwiteite word eers vir Oktober beplan, maar Julie bied ook ’n week waarin besoekers die mark kan besoek en vertonings kan bywoon.
Corneli van den Berg en Michael Garbett, sowel as die res van die feesspan werk nou volstoom aan die fees.
Die Vrystaat Kunstefees bied van 12 tot 16 Julie ’n mini-mark op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat rondom die Callie Human-saal en die eksamenlokale aan.
Van den Berg sê daar sal sowat 120 stalletjies op die mark wees met eg Suid-Afrikaanse, unieke, uitgesoekte en handgemaakte produkte.
Die fees gaan egter in Julie nie net ’n mekka vir lekker inkopies skep nie, maar daar is ook teater-, musiek- en dansproduksies waarna die publiek kan uitsien. Een van die besliste hoogtepunte is die debuut-komedie Laerskool Noord met Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Bloemfonteiner Ilne Fourie in die rolverdeling.
Die jongspan sal hierdie vakansie kan gaan kyk na ’n produksie van Liewe Heksie en die rolskaatse. Verskeie plaaslike musikante sal tydens die feesweek by die Aasvoëlklub optree. Dit sluit ’n program met musiek van Afrikaanse legendes in waarin Mario Lategan en Cézanne Yzelle gaan optree.
Van 2 tot 8 Oktober sal die Vrystaat Kunstefees met ’n vol program spog, insluitend teateraanbiedinge, literatuurfees, filmfees, visuele en eksperimentele kuns, en ’n groter kunstemark wat ook op die UV-kampus aangebied word.
Van den Berg sê die gesondheid van alle feesgangers is vir die feesdireksie belangrik.
“Die fees sal aan alle nodige Covid-19-regulasies voldoen, insluitend maskers wat binne geboue gedra moet word, beperkte toegang en sosiale afstande.”
Die fees is ook onderhewig aan die UV se inentingsregulasies.
Feesgangers wat nie ingeënt is nie, sal ’n negatiewe SARS-Cov-2 PCR- of antigeentoets moet wys.
’n Negatiewe toetsresultaat sal vir die hele feesweek geldig wees. In samewerking met die kunstefees sal Clicks hierdie diens aan feesgangers verskaf teen R150 per toets.
Ingeënte feesgangers kan hul inentingsertifikate, saam met hul toegangskaartjie, by die UV se ingangshekke vertoon vir toegang tot die kampus.
Feesgangers sal hul toegangskaartjies tot die kampus, teen R20 per persoon, by die besoekerssentrum by hek 5 van die UV Bloemfontein-kampus, kan koop.
Clicks sal ook die nodige toetse hier doen en feespersoneel sal hulp verleen om die negatiewe resultate op die UV se QR-stelsel te laai.
Feesgangers wat nie ingeënt is nie, word aangeraai om hul toetse betyds te doen, aangesien die UV 24 tot 48 uur benodig om die negatiewe uitslag te verifieer.
Die feesspan en Clicks sal van Vrydag 8 Julie by die besoekersentrum teenwoordig wees om die nodige toetse te doen en hulp te verleen om die negatiewe resultate op die UV-stelsel te laai.
Toegangskaartjies tot die feesterrein en teateraanbiedinge is ook reeds te koop op die webblad webtickets.co.za.
Vir meer inligting oor vanjaar se Vrystaat Kunstefees, stuur ’n e-pos na mark@vrystaatkunstefees.co.za of stuur ’n Whatsapp na 063-584-4379.