Vermorsing wek ál meer kommer

Duisende liters vars water het Paasnaweek in die Renosterspruit beland nadat ’n pyp in Dreyerweg, Roodewal, gebars het en selfs ná herstelwerk gelek het.


Duisende liters vars water het Paasnaweek in die Renosterspruit beland nadat ’n pyp in Dreyerweg, Roodewal, gebars het en selfs ná herstelwerk gelek het.

Rudi Maartens van die Slightly Nutty-restaurant langs die Maselspoortpad het Dinsdag (19/04) gesê die water het in hul plaaspad afgestroom, tot in die spruit.

Hy sê hul wyksraadslid, Mokgadi Kganakga van die DA, het Sondag ure lank in die reën gesit om seker te maak dat die pyp wat Vrydag begin lek het, herstel word.

Kganakga sê die waterlekplek is Donderdag (14/04) by die Mangaung-metro aangemeld en herstelwerk is teen Vrydag om 16:30 gedoen.

“Teen 18:30 het die pyp weer begin lek. Ek het die metro hieroor ingelig omdat miljoene liters water oornag weggevloei het,” het sy in ’n boodskap aan wykslede gesê.

Teen Saterdag om 09:10 was kontrakteurs op die toneel en volgens hulle was daar ’n nuwe lekplek ’n paar sentimeters van die eerste een. Hulle het aan Kganakga gesê dat die ou asbespyp weer gekraak het.

“Hulle het gesê dit is weens verouderde infrastruktuur.”

Kganakga sê die pyp is Sondag om 18:00 herstel.

“Ek het met die departementshoof en die burgemeester kontak gehou omdat hierdie situasie onaanvaarbaar is.

“Ek vra dat die metro oorweging aan diensleweringsvlakke gee met kontrakteurs en personeel sodat iemand verantwoordelik gehou word vir die honderdduisende rande wat weens nalatigheid, onbekwaamheid en onverskilligheid vermors is.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.