Vermy selfverwyt oor dit wat kon gewees het

As daar een voorneme is wat ’n mens se lewe sou kon verander, en sweerlik ook die wêreld in mindere of meerdere mate, is dit dié een.


As daar een voorneme is wat ’n mens se lewe sou kon verander, en sweerlik ook die wêreld in mindere of meerdere mate, is dit dié een.

Ek was nie wys genoeg om self daaraan te dink nie. Dikwels gaan dit buitendien nie daaroor om die idee te kry nie; dit hang liewer daarvan af om dit presies reg te verwoord.

Dis ’n kollega wat dit nét mooi gestel het terwyl nuwejaars­voornemens eenkeer uitgeruil is: om nie na te laat nie.

Ek sal nie verbaas wees as jy hierdie woorde gelees het, en daarna nog ’n keer of twee nie. Dis so bedrieglik eenvoudig dat dit onbenullig lyk.

Waarskynlik is dit vir sommige lesers nie so ’n uitsonderlike idee nie. Dalk is dit ’n meer algemene voorneme as wat ek besef.

Die moontlikhede wat dit egter inhou, is onteenseglik.

Doen dit wat gedoen moet word. Sê dit wat jy besef gesê behoort te word. Moenie nalaat nie, maak seker dat jy daarvoor kans kry – doen dit vandag nog.

Van uitstel kom afstel, dra ek die waarskuwing al uit my kinderdae met my saam, aangevul deur ’n bondeltjie skuldgevoel wat tree ná tree ’n bietjie swaarder word.

Bedoel as ’n vermaning om nie jou verantwoordelikheid eenkant toe te skuif nie, destyds sekerlik vir wanneer dit kom by dinge soos akademiese leerwerk, noem dié gesegde nie die ding op die naam nie.

Die allerverskriklikste ding wat jou as gevolg van ’n uit- of afstellery kan tref, moet jy hier tussen die reëls raaklees.

Wat gebeur is: Jy verloor sekere dinge. Jy raak dinge kwyt. Nog erger, ander mense is eindelik dinge kwyt wat hulle toekom.

Laat jy na om vir iemand dankie te sê vir iets wat hulle vir jou gedoen het, is hulle die besef kwyt dat hulle iets vir ander beteken – en jy is die kans kwyt om hulle te laat weet dat jy hulle waardeer.

Word jy van ’n geleentheid bewus, maar laat na om dit aan te gryp, verspeel jy ’n kans op die heel suiwerste van maniere.

Let jy op dat dit met iemand moeilik gaan, maar jy laat na om na hulle uit te reik, is jy die kans kwyt om die wêreld hier by jou, die hier en die nou, vir iemand ’n klein bietjie beter te maak.

Laat jy ’n verhouding met iemand besonders kwyn omdat jy keer op keer nalaat om die klein goedjies te doen wat werklik saak maak, kan jy verbitterlik maklik selfs daardie mens kwytraak.

Dit was met die aanbreek van die feestyd op almal se lippe: Kan jy glo dis al dié tyd van die jaar; die dae gaan verskriklik vinnig verby; ek kom sowaar by niks uit nie, maar wag . . .wag net dat die Kersvakansie kom, dan gaan ek (én die tyd) stadiger beweeg.

Dis ook maar relatief, onthou. Elke oomblik van enige jaar beweeg ewe digby jou lyf verby. Jy kán ’n hand daarop kry.

Mag ons almal in hierdie tyd, maar juis daarna ook, geleentheid daarvoor kry én die gewoonte aankweek om nie na te laat nie.

Geniet die asemskep!

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.