
Met die oorhandiging van pakkies as blyk van waardering vir verpleegpersoneel is van links Melanie Kramer (VVA-direkteur van bejaardesorg), Louise Zeelie (bestuurder van verpleegkundiges, Mediclinic Bloemfontein), Ria Malan (VVA-direkteur van vakkundige dienste), Tharina Vermeulen (VVA-direkteur van finansies), Henriette Wessels (voorsitter, VVA-hoofbestuur) en Zelda Greeff (matrone by Covid-afdelings, Mediclinic Bloemfontein).
Lientjie Mentz
Lientjie Mentz
Lientjie Mentz
Augustus is tradisioneel omgee-maand by Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA), en vanjaar het die hoofkantoor besluit om uit te reik en met ’n klein gebaar dankie te sê aan verpleegpersoneel by die Mediclinic Bloemfontein.
“Covid-19 het die afgelope maande ons huise en gemeenskappe binnegedring,” sê Ria Malan, direkteur van vakkundige dienste aan die VVA.
“Dit laat die meeste van ons met gevoelens van vrees en onsekerheid oor die gevaar en invloed wat dit op ons en ons geliefdes sal hê.
“In 2021 is ons fokus in omgee-maand op gesondheidspersoneel wat met prysenswaardige vlakke van veerkragtigheid en volharding daagliks omsien na mense wat siek is weens dié virus.
“Ons besef hulle stel hul eie lewe in gevaar om ander te versorg en dat hulle op hierdie wyse ’n belangrike bydrae in die stryd teen Covid-19 lewer.”
Louise Zeelie, bestuurder van verpleegkundiges aan die Mediclinic Bloemfontein, sê elke blykie van waardering van die publiek se kant af word ongelooflik waardeer. Met die VVA se besoek op Woensdag 18 Augustus het sy gesê die hospitaal bly vol met Covid-19-pasiënte.
“Die personeel werk regtig baie hard. Baie dankie dat julle omgee.”