Dit is nie net spoggerige ou motors wat die harte warm gaan laat klop op die Cars in the Park-uitstalling nie.
Benewens die uitstalling van veteraanmotors deur die Vrystaatse Veteraanmotorklub, gaan daar op die vakansiedag op 1 Mei van 08:00 tot 15:00 ook speelgoed uitgestal en te koop wees.
Jacques Pretorius van die Bloemfonteinse Modelmotorklub, wat die speelgoedskou op die dag reël, sê daar sal motortjies, strokiesprente en poppe uitgestal en te koop aangebied word.
“Jy weet nooit watter juwele jy kan raakloop nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat jy jou poppe en motortjies mooi oppas.”
Hy vertel dat die miniatuurmotor-reeks Matchbox vanjaar sy 70ste bestaansjaar vier.
Matchbox is begin toe Jack Odell se dogtertjie, Lesney, in 1952 eendag van die skool af gekom het met ’n nota dat sy die ander kinders met paddas en ander goed bang maak. Die skool het toe beveel dat enige speelding wat kinders skool toe bring, in ’n vuurhoutjieboksie moet kan pas. Jack het toe die dogtertjie se stootskrapertjie afgeskaal totdat dit in ’n vuurhoutjieboksie kon pas, en so het sy idee vir dié reeks ontstaan.
In die 1960s het Elliot Handler ’n droom gehad van ’n reeks motortjies wat kompetisie vir Matchbox kan bied en hy het Hot Wheels begin, wat gou ’n blitsverkoper geword het.
Pretorius sê die duurste Hot Wheels-karretjie wat op die mark is, is ’n pienk strand-kombi met twee branderplankies, wat vir tot soveel soos R3,1 miljoen verkoop.
Hot Wheels vier vanjaar sy 55ste bestaansjaar.
Nog ’n nuutjie is die uitstalling van strokiesprentboeke.
“Dink net aan Marvel, DC en Kuifie. Oorspronklik sou so ’n boek iets soos 10c gekos het, maar vandag word van die eksemplare op veilings vir tot 3,6 miljoen dollar verkoop.”
Die eerste Barbie-pop is in 1959 deur Ruth Handler ontwerp.
“Dié poppe het so gewild geraak dat van hulle groot waarde het. Selfs koningin Elizabeth is op haar 70ste verjaardag met ’n Barbie vereer wat soos sy lyk.”
- Kaartjies vir die geleentheid kos R40 by die hekke van die Martie du Plessis-skool. Toegang vir kinders kos R10 en kinders jonger as tien kry gratis toegang.