Die Vrystaatse Veterane Motorklub, in samewerking met die Bloemfontein-modelmotorklub, bied op 1 Mei die jaarlikse Cars in the Park-uitstalling by die Martie du Plessis-skool aan.
’n Speelgoedskou met ’n verskeidenheid speelgoedmotors, poppe, treintjies, modelfiguurtjies en versamelaar-strokiesprentboeke word ook gehou.
Dié skou sal in die sale by die skool wees.
Soos altyd gaan diegene met hul veteraan- en spogmotors op die skool se sportterrein parkeer sodat besoekers hulle in die voertuie kan verlustig.
Na aanleiding van die herdenking van Ford se 100ste jaar in Suid-Afrika, wat einde verlede jaar gevier is, sal daar ook ’n uitstalling wees van ’n verskeidenheid antieke en moderne Ford-motors.
Cars in the Park duur van 08:00 tot 14:00. Toegang kos R40, kinders betaal R10 en kinders jonger as tien jaar kry gratis toegang.