Versamelstukke nou tuis by skool

Twee kosbare beeldjies van die Voortrekker­nooientjie is Vrydag (14/04) ten tyde van die Meisieskool Oranje se jaarlikse besoek aan die Vroue­monument aan dié skool oorhandig.


Twee kosbare beeldjies van die Voortrekker­nooientjie is Vrydag (14/04) ten tyde van die Meisieskool Oranje se jaarlikse besoek aan die Vroue­monument aan dié skool oorhandig.

Die eerste is ’n kleiner bronsbeeld-weergawe van die volgrootte Voortrekkernooientjie wat die kunstenaar Laurika Postma vir Oranje gemaak het en wat ikonies op die skoolterrein pryk.

Annie Malan, bekende akteur en sakevrou se ma, Jeannette Malan, was eertyds ’n leerling aan die Meisieskool Oranje.

Haar man, Hendrik, wat ’n ywerige kunsversamelaar is, het destyds die beeldjie by ’n handelaar gekoop, en dit het al die jare in hul huis gestaan.

“Annie en die ander kinders het nie die verbintenis met Oranje wat Jeannette het nie,” het Hendrik Vrydag op die geselligheid gesê.

“Ons het besluit om die beeldjie aan die skool te skenk.”

Nog ’n beeldjie wat op dieselfde geleentheid aan die skool oorhandig is, is die maket van die beeldjie wat in besit was van wyle Ben van Rensburg, die eerste direkteur van die Oorlogs­museum van die Boererepublieke van 1941 tot 1968.

Dié gipsbeeld, wat Postma gebruik het om die beeld te maak wat by Oranje staan, was al die jare in Van Rensburg se kantoor.

Sy seun, Ben, het besluit dat die maket eerder by die skool hoort, en dit is Vrydag deur twee leerlinge met ’n verbintenis aan die Oorlogsmuseum, Margitte van Zÿl (gr. 12) en Amoery Myburg (gr. 11) namens die skool in ontvangs geneem.

Amoery se ma, Sunet, werk by die museum en Margitte se pa, dr. Johan van Zÿl, is die bestuurder van die Oorlogsmuseum se afdeling vir geestesweten­skaplike navorsers.

Oranje vier vanjaar sy 116de bestaansjaar.

Op die geleentheid by die Vrouemonument, wat ’n groot reünie-naweek vir oudleerlinge van die skool ingelui het, is kranse deur leerlinge, asook oud­leerlinge van verskillende jaargroepe, op die graf van ds. J.D. Kestell gelê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.