Pragtige meubels, besonderse skilderye en kosbare ornamente is onder die voorraad wat op Vrydag 7 Maart op die Bloemfonteinse skouterrein ten bate van die Kersfonds onder die hamer gaan kom.
Die voorraad kom uit die boedel van ’n ware versamelaar wat in ’n groot meenthuis in Pellissier gewoon het.
Die meubels sluit ’n outydse wastafel, ’n wakis, verskeie kassies en stoele in.
’n Verskeidenheid beeldjies en ander ornamente, asook kombuisware, sal te koop wees.
Meer as 40 skilderye gaan op die veiling beskikbaar wees – vir versamelaars, asook almal wat net na ’n besonderse skildery of kunswerk op soek is.
Besigtiging van al die voorraad kan die Vrydag van 08:00 tot 10:00 gedoen word, en registrasie kan ook daar by die saal op die skouterrein gedoen word.
Die veiling begin om 11:00 en sal deur Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers behartig word.
Rig navrae oor die voorraad aan Betsie Roux by 082-413-9275.
- Ondernemings en individue kan ’n bydra tot die Kersfonds maak deur ’n inbetaling by Nedbank te doen.
Die rekeningbesonderhede is: Volksblad-Kersfonds, rekeningnommer 102-891-9980, takkode 117-134. Stuur bewys van betaling na annemarie@engo.co.za. ’n Belastingsertifikaat kan ook uitgereik word.