Verse afgewag

Die hegte kameelperd-gesin van Naval Hill is Vrydag (18/03) tragies uitmekaargeruk toe Masabatha, die koei, die ontbering nie oorleef het nadat sy in ’n erosiesloot beland het nie.


Die hegte kameelperd-gesin van Naval Hill is Vrydag (18/03) tragies uitmekaargeruk toe Masabatha, die koei, die ontbering nie oorleef het nadat sy in ’n erosiesloot beland het nie.

Daar is egter hoop dat nog twee kameelperde binnekort in die Franklin-reservaat gevestig gaan word.

Andri Grobbelaar, voor­sitter van die Vriende van Franklin, sê sy het Vrydag teen laatmiddag ’n groot slag buite haar huis teenaan Naval Hill gehoor.

“Ek het dadelik gaan kyk en gesien die kameelperd het in die erosiesloot geval. Sy het ’n paar keer probeer uitklim, maar het eindelik weer teruggegly, met haar bene wat onder haar beland het.”

Grobbelaar het die hulp van die Bloemfonteinse DBV ingeroep, en Mangaung se departement natuurlewe, asook die brandweer, is later gekontak om te kyk of die kameelperd uit die sloot gered kon word.

“Meer as 15 van ons het haar met toue en harnasse daar probeer uittrek, maar ons kon haar nie beweeg nie. Sy was duidelik te swak en het daar beswyk.”

Grobbelaar sê die kameelperdkoei was sowat 20 jaar oud en hulle was die afgelope ruk bekommerd oor haar gesondheid.

“As sy sterk en gesond was, sou sy nie in die sloot beland het nie – sy ken die reservaat – en sou sy sterk genoeg gewees het om daar uit te klim.”

Grobbelaar sê telkens wanneer sy korrespondensie aan die munisipaliteit en ander instansies gerig het, het sy haar kommer uitgespreek dat die koei oud is.

“Ek het bly sê hoe belangrik dit is dat ons nuwe kameelperde in die reservaat moet vestig.”

Die Vriende van Franklin het sowat twee jaar gelede begin geld insamel en voelers uitgesteek oor kameelperde wat vir die reservaat gekoop kan word.

“Die proses het ver gevorder en twee verse behoort middel April op Naval Hill gevestig te word,” sê Grobbelaar.

Masabatha was die ma van die bul en die kalf, Paseka.

Paseka is nou drie jaar oud en behoort op vyf jaar volwassenheid te bereik.

Meer as 15 van ons het haar daar probeer uittrek – Andri Grobbelaar

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.