Reën hoër op in die Caledonrivier het weer ’n invloed op die Mangaung-metro se vermoë om water te voorsien.
Qondile Khedama van die metro se kommunikasie-afdeling sê ingenieurs moniteer die situasie en die implementering van ingrypingsprogramme om die watertoevoer na die stad te stabiliseer.
Khedama sê weens die onderbrekings in watertoevoer in die suide van die stad word inwoners en ondernemings aangemoedig om water te bespaar.
Mense word gevra om water vir huishoudilke gebruik te beperk; die besproeiing van tuine, die was van motors en die hervul van swembaddens tydelik te staak; en waterbesparende praktyke soos die hergebruik van gryswater toe te pas, waar moontlik. Die publiek word ook gevra om lekplekke so vinnig moontlik aan te meld.
Khedama sê die versoek aan die publiek is om optimale watergebruik beskikbaar te stel vir kritieke infrastruktuur insluitend dié van hospitale, skole en publieke en private gesondheidsinstellings.
Die waterbesparende stappe sal help om hoogliggende dele van die stad soos Pentagonpark, Heuwelsig, Dan Pienaar en Bayswater, asook dorpe in die metro soos Soutpan en Vanstadensrus, se watertoevoer vinniger te stabiliseer.