Groot dele van Bloemfontein sukkel al die afgelope twee weke met watertoevoer. Foto: Lientjie Mentz


Byna die hele Mangaung-metro sit vanoggend sonder water en die metro het vanoggend in ’n nuusverklaring gesê die metro se eie watersuiweringsaanleg by Maselspoort asook Vaal Central Water het groot uitdagings.

Groot dele van Bloemfontein sukkel al die afgelope twee weke met watertoevoer. Foto: Lientjie Mentz

Die metro se stadsbestuurder, Sello More, sê die stad sukkel al die afgelope twee weke met uitdagings wat waterverskaffing beïnvloed.

Volgens hom is die oorsaak van die probleme die afgelope tyd se reënval wat lei tot die troebelheid en opdrifsels in die water by die Welbedactdam wat die hele waterverskaffingsnetwerk onder groot druk plaas. Kragonderbrekings vererger die probleme.

Instandhoudingswerk word ook by die Maselspoort-suiweringsaanleg gedoen.

Vir die suide van die stad word water met ’n pyplyn oor 115 km van die Welbedacthdam na Bloemfontein gevoer, maar die aanleg voorsien ook water aan Dewetsdorp, Edenburg, Reddersburg en ander gebruikers langs die Bloemfontein-pypleiding.

More sê daar is Maandag kennisgewings uitgestuur dat ’n proses van waterbeperkings ingestel word om kapasiteit te bou.

Die Mangaung-metro het die volgende maatreëls getref om die waterstelsel te stabiliseer. Die Brandkop-reservoir is van gisteraand 18:30 tot 05:00 afgeskakel wat veroorsaak het dat daar nie water was in Langenhovenpark, Spitskop, Reyneke-laan en by die N1 Engel-vulstasie nie.

Weens die lae vlakke van die Longridge-reservoir is Phelindaba, Rocklands en Fases 4,5,6,7 en 9, Namibia, Freedom Square, Chris Hani en talle omliggende areas ook beïnvloed.

Die water was ook van 20:00 tot vanoggend 05:00 in Dewetsdorp, Mandela View en Wepener gestop.

More sê die Arboretum-reservoir verskaf water aan laagliggende dele van die stad asook hospitale. Hy sê die watervermindering sal talle woonbuurte in die stad raak

Hy vra dat mense met watertenks groter as 2 500 liter dit toedraai sodat water vir meer inwoners asook ondernemings beskikbaar is.

Hy het gesê dat watertenks sal aan hoogliggende dele verskaf word.

“Die noordelike dele van die stad sal na verwagting deur die loop van vandag water kry omdat die stelsel leeg was ná die onderhoudswerk by Maselspoort.

You need to be Logged In to leave a comment.