Opposisiepartye het talle vrae oor die Mangaung-metro se verkrygingsbestuursverslag wat Donderdag 31 Julie in die raad gedien het.

Terwyl gemeenskappe sukkel om basiese dienslewering te kry, het die Mangaung-metro die afgelope jaar meer as R6 miljoen bestee aan spyseniering alleen.

Dit blyk uit die metro se verskaffingsbestuursverslag tot op 30 Junie, wat op Donderdag 31 Julie in die metro se raadsvergadering gedien het.

DA-raadslid Dirk Kotzé sê in ‘n verklaring die verslag wys hoe geld spandeer word, maar meer as dit: ook hoe deursigtigheid, verantwoordbaarheid en openbare vertroue afgetakel word deur geld wat ongekontroleer en met swak oorsig bestee word.

Dirk Kotzé, DA-raadslid

Kotzé sê met die aanbied van die Cosafa-sokkertoernooi, waarvoor die metro R6 miljoen beskikbaar gestel het met die belofte van toerisme, internasionale sigbaarheid en ‘n ekonomiese hupstoot, is net R96 000 bestee – en dit vir spyseniering. Geen aanduiding word gegee vir infrastruktuur, logistiek en operasionele koste nie.

Mare-Lize Wewege van die VF Plus sê die party kan nie die vae verslaggewing, ongereguleerde uitkontrakterering van basiese dienste en voorturende vertroue op konsultante aanvaar nie.

Mare-Lize Wewege van die VF Plus

Sy sê die verslag het talle onduidelikhede.

“Een inskrywing gee die begroting vir ‘n heining wat gebou moet word as R7,5 miljoen. Watse soort heining is dit en wat word beskerm?

“In Martindale en Lakeview word daar melding gemaak van omheining van R7,4 met slegs R1,9 miljoen wat beskikbaar is in die begroting. Dit maak nie sin nie. Is dit ‘n afwyking, oorbesteding of ‘n fout in die verslag?” het sy Donderdag in die vergadering gevra.

Kotzé sê die verslag laat ook kommer oor die groot uitgawes op kontrakteurs wat loodgieterswerk doen.

“Met R14,9 miljoen wat spandeer word op nood-onderhoudwerk, is dit nie duidelik hoekom gemeenskappe dikwels lang tye wag wanneer pype bars, riolering lek en watertoevoer onbetroubaar is nie? Waar is die werk wat gedoen word?” vra hy.

Hy sê die raad wag nog op die burgemeester se verslag oor die beleggingseminaar, ‘n volledige verslag van die spandering van die Cosafa-toernooi, ‘n forensiese oorsig van die nood-loodgieterswerk en ‘n volledige oudit van die spysenierskontrakte en diensverskaffers.

You need to be Logged In to leave a comment.