Pieter Peyper (voorsitter van die Vrystaat-wynproewersgilde, links) en De Villiers Brink, wat albei die Blaauwklippen-geselligheid bygewoon het. Die ander lede van die versnitspan is Lukas van Niekerk en Martin Vermaak. Foto: Verskaf

Die Vrystaat-wynproewersgilde het ‘n tweede plek in die jaarlikse nasionale Blaauwklippen-versnitkompetisie losgeslaan.

Die kompetisie, wat vanjaar ‘n 42ste keer aangebied is, het 65 inskrywings van oor die land heen getrek.

Die kompetisie het behels die saamstel van ‘n Boergondiese wynversnit; deelnemers word voorsien van ‘n cabernet franc, cabernet sauvignon, merlot en petit verdot.

De Villiers Brink, lid van die gilde, sê die versnit mag nie minder as 5% of meer as 60% van enige van die wyne bevat nie en moet bepaalde verouderingspotensiaal hê.

Die versnitformule wat aan die Vrystaat-wynproewersgilde erkenning besorg het, is in Bloemfontein gemeng en in Mei ingestuur as inskrywing vir die kompetisie. ‘n Paneel het die verskillende versnitte geproe sonder om te weet wie watter versnit gemaak het.

Die vier topversnitte is in Augustus aangekondig, en die Vrystaatse gilde is na die prysuitdelingsgeselligheid genooi wat op 19 September op die Blaauwklippen-landgoed buite Stellenbosch gehou is.

“Die Vrystaat-wynproewersgilde het reeds verskeie kere aan hierdie kompetisie deelgeneem,” sê Brink.

“Dit is die beste wat ons tot nog toe gevaar het. Die Vrystaat-versnit het bestaan uit 31% cabernet franc, 33% cabernet sauvignon, 30% merlot en 6 % petit verdot.”

Die wenner van die kompetisie is die Lydenburg-wyngilde.

You need to be Logged In to leave a comment.