Versoekskrif lug studentehuis-klagtes

Al hoe meer inwoners voeg hul name by ’n versoekskrif teen onwettige studentehuise, partytjies, misdaad en onwettige strukture in Universitas.


Al hoe meer inwoners voeg hul name by ’n versoekskrif teen onwettige studentehuise, partytjies, misdaad en onwettige strukture in Universitas.

Inwoners sê hul lewensgehalte en veiligheid word negatief beïnvloed deur die onbeheerste en onwettige uitbreiding van studentehuise in Universitas en naburige woonbuurte.

Meer as 260 lede van die gemeenskap het al die versoekskrif onderteken. Dit is deur die Universitas-woonbuurtvereniging (UWV), die Universitasrif-woonbuurtvereniging, die Sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum en besorgde gemeenskapslede opgestel.

Dit gaan oorhandig word aan talle belanghebbendes, wat die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Parkweg), eienaars van studentehuise in en om Universitas, asook die Mangaung-metro, insluit.

Frikkie Eisenberg, ondervoorsitter van die UWV, sê hulle gaan nie rus voordat reëls sonder uitsondering toegepas word nie.

“Dit is goed dat die Mangaung-metro in November inspeksie gedoen het, maar van die eienaars wat toe oor onwettige bouwerk gewaarsku is, het in Desember daarmee voortgegaan.”

Hy sê by een van die huise was daar selfs op vakansiedae werkers.

Eisenberg sê omstandighede is so sleg dat patrolleerders nie na studentehuise waar lawaaierige partytjies gehou word, kan gaan nie, omdat hul motors met bottels en ander voorwerpe bestook word.

Van die klagtes in die versoekskrif is die ongekontroleerde toename in die aantal studente wat nie op kampus woon nie en die UV en Mangaung-metro se onvermoë om proaktief te beplan om voldoende en wettige behuising aan studente beskikbaar te stel.

By navraag het Lacea Loader, woordvoerder vir die UV, einde verlede jaar gesê kampusverblyf word ten volle beset.

Benewens lawaaierige partytjies by talle studentehuise in Universitas en naburige woonbuurte wat inwoners se rus versteur, is ander kwessies wat in die versoekskrif genoem word onder meer onwettige strukture wat by van die huise gebou word; die onwettige storting van boumateriaal; die onwettige gebruik van eiendom wat nie volgens die metro se regulasies gedoen word nie; informele handelaars wat in die woonbuurt oopgemaak het; asook drankmisbruik in openbare ruimtes.

Herman Lombard, ’n inwoner van Universitas, sê die munisipale belasting wat weens nie-nakoming van munisipale regulasies, asook inkomstebelasting verlore gaan, behels reuse-bedrae.

Wanneer iemand van voorneme is om ’n studentehuis in te rig, moet bure toestemming gee. Volgens Schalk van Vuuren, voorsitter van die UWV, gebeur dit selde. “Mense vind oornag uit daar is ’n studentehuis langs hulle.”

Volgens Eisenberg is daar sowat 3 000 wonings in Universitas, as al die onderverdelings in ag geneem word. Van Vuuren en Eisenberg skat die getal studentehuise tussen 1 000 en 1 400.

Tydens ’n klopjag deur die Mangaung-metro in November verlede jaar is daar onderneem om boetes aan sowat 780 onwettige studentehuise te beteken.

Van Vuuren sê hulle gaan nie rus totdat alle studentehuise reg gesoneer is, eienaars die regte belasting betaal, alle studentehuise geakkrediteer is en daar toesig is om dissipline by alle studentehuise af te dwing nie.

Inwoners wat die versoekskrif wil onderteken, kan navrae aan Eisenberg by 083-284-8283 rig. Die versoekskrif kan ingevul word by https://docs.google.com/forms/d/1r9y7fHCaP6HsmLm7qMUU8M2SSD5Y6DyMSjsbTS3C5Cw/edit

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.