Versoekskrif wil seker maak pad en brug by Vereeniging-verlengpad is gou weer oop

Meer as 1 200 inwoners het al ’n versoekskrif onderteken om te vra dat die Vereeniging-verlengpad na Oliver Tambostraat so gou moontlik oopgestel word.


Meer as 1 200 inwoners het al ’n versoekskrif onderteken om te vra dat die Vereeniging-verlengpad na Oliver Tambostraat so gou moontlik oopgestel word.

Die nuwe brug en pad wat Fauna met Hamilton verbind, moes al in Maart 2022 voltooi gewees het.

David McKay, DA-raadslid, sê 92% van die pad is voltooi en Centlec het al die straatligte opgerig.

“Geld vir die projek kom van ’n voorwaardelike toelaag van die nasionale regering en die geld kan slegs vir dié projek aangewend word. Daar is dus geen rede vir die Mangaung-metro om nie die kontrakteurs te betaal nie,” se McKay.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro sê daar is nog net afrondingswerk aan die sypaadjies en nog werk wat aan die straatligte gedoen moet word.

“Die amptelike opening van die brug is binnekort, maar die datum is nog nie bekend nie.”

Duisende inwoners van die stad en veral mense wat in Hamilton of in die suide van die stad werk, is moedeloos oor die ompaaie wat hulle nou al vir so lank moet ry.

Mense aan die verste dele soos Langenhovenpark moet ompad van tot 30 km per dag ry.

McKay het ’n versoek aan die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, en die waarnemende stadsbestuurder, Tebogo Motlashuping, gerig om die pad teen 15 Februarie oop te stel.

“As die pad oopgestel word, sal dit vir baie inwoners brandstof spaar en dit sal ook bydra dat die omgewing skoner is omdat mense weer makliker by die stortingsterrein sal kan uitkom.”

Mc Kay sê hy doen ’n beroep op mense wat geraak word deur die pad wat nog nie oopgestel is nie, om Maandag tussen 08:00 en 09:00 by die Memoriumweg-toegang saam te trek om te betoog teen die situasie.

Die skakel om die versoekskrif te teken, is 

https://forms.gle/qnYM9om1KZca7Gxi7
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.