Laat jou troeteldier saam met jou in die swembad afkoel, maar moet hom nie alleen daar laat nie.

Unsplash/Murilo Viviani

Met dagtemperature wat nou byna daagliks tot bokant 30°C styg, is dit belangrik om te onthou dat troeteldiere nie op dieselfde manier as mense afkoel nie.

Volgens die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Johannesburg-tak, sweet honde en katte net deur hul voete en neuse, terwyl konyne en voëls glad nie sweet nie.

Honde hyg met hul tonge wat uithang as primêre manier om af te koel. Water verdamp van hul tonge af wat koel lug na hul longe, tong en klam dele van die mond laat vloei. Katte lek hul pelse om af te koel.

Hier is ’n paar wenke, te danke aan die DBV, om jou troeteldier koel te hou dié somer:

  •  Hou troeteldiere verkieslik binne die huis en uit direkte sonlig.
  • Indien jou hond bedags buite is, maak seker daar is genoeg koelte en genoeg koel, skoon water.
  • Waterveiligheid is belangrik. Moet nie honde by die swembad loslaat nie – almal kan nie so goed swem nie.
  • Moet nooit jou hond sonder toesig in ’n toe motor los nie – selfs nie eers as dit ’n koeler dag is nie. Temperature in ’n motor kan vinnig tot meer as 50°C styg, selfs met die vensters oop.
  • Stap soggens vroeg of saans met jou hond wanneer die temperature op die sypaadjie bietjie koeler is. Bly op die gras waar moontlik.
  • Honde met kort snoete, soos boksers, bulhonde, mopshonde (pugs), ook persiese katte en ander ouer, siek of oorgewig troeteldiere is besonder vatbaar vir hitte-uitputting.
Die DBV waarsku dat diere vinnig agteruit kan gaan weens hitte-uitputting.

Van die tekens waarna eienaars kan oplet is lusteloosheid, vinnige asemhaling, bewerasies, as hulle uitermatig kwyl, rusteloosheid en ’n langdurige gebrek aan aptyt.

Erge simptome sluit diarree en braking in.

As jy bekommerd is, kan jy kyk na die dier se tandvleis en tong – dit word pers-grys as hulle baie warm kry. Die dier sal ook sukkel om op te staan en stug wees.

As jy vermoed jou dier ly aan hitte-uitputting, koel hulle af met ’n sproei met die tuinslang of in ’n bad.

Neem jou troeteldier na die veearts as hulle aan hitte-uitputting lei – dit kan ly tot skade aan die organe en uiteindelik orgaanversaking

You need to be Logged In to leave a comment.