Hard aan die werk in die tuintjie is van links, voor: Dorika Freemantle, Melanie Dorfling, Ilmarie van Greunen, Henriette Heyman en Susan van Graan

Dit is die derde jaar dat ’n groep studente in Bloemfontein as deel van Solidariteit Helpende Hand se Opleidingsinstituut in versorging opgelei word.

Agt nuwe studente het hulle op 15 Februarie aangemeld vir die kursus, wat by die Siesta-aftreeoord aangebied word.

Kobus Venter, streekorganiseerder van Helpende Hand in die Vrystaat, sê die kursus is heelwat aangepas om in die behoeftes van studente te voorsien.

“Die naam van die kursus is verander van ’n tuisversorgingkursus na ’n versorgingkursus. Teoretiese klasse word ook vanjaar by Akademia aangebied.”

Hy sê die rede vir die aanpassing is omdat sommige studente ook au pairs wil word of wil voortgaan om verpleegkunde te studeer.

“Die aangepaste kursus maak ook daarvoor voorsiening, saam met studente wat ouer mense tuis wil versorg.”

’n Ander verandering aan die kursus is dat die studente benewens die prakties wat hulle by Siesta doen, ook by die Serenitas-aftreeoord gaan prakties doen.

d

Die bande moet eers oopgesny word.

Die studente het hul eerste week begin deur Vrydag (17/02) ’n groentetuin by Siesta aan te lê.

Carlé Marais, kursus-koördineerder van Solidariteit Helpende Hand in Bloemfontein, het vir hulle wenke gegee oor hoe om ’n groentetuin met motorbande te bou, danksy ’n kursus genaamd Garden for Life wat sy onlangs bygewoon het.

Die studente het saad vir wortels, beet, spinasie, tamaties en kool geplant, in die tuintjies gemaak van herwinbare materiaal soos die motorbande en plastiekbottels.

Hulle sal die tuine versorg en die groente sal ’n waardevolle bydrae tot Siesta se kosvoorraad lewer. Die studente sal ook in ’n stadium vir inwoners van Siesta wys hoe om hul eie tuintjies te maak en in stand te hou.

d

Die band word eers uitgevoer met plastiek, voordat ‘n mengsel van potgrond en kunsmis in die band gegooi word.
S

Charlé Marais wys vir Kim Joubert hoe om water in die bottels te gooi om die bak wat met sade geplant is, nat te gooi. Die bottel word in die middel van die bak in die grond geplant.

You need to be Logged In to leave a comment.