Frikkie van Niekerk (23) wat gisteraand in Memoriamweg aangeval en vermoor is.Foto: Verskaf


Vriende en familie is verslae oor die onsinnige moord op Frikkie van Niekerk (23), wat gisteraand op pad van sy werkplek in Memoriamweg, Bloemfontein, op die brug deur ’n onbekende aanvaller doodgesteek is.

Die polisie en paramedici is om ongeveer 18:00 Vrydag na die toneel ontbied en Van Niekerk is op die toneel dood verklaar.

Hy is deur sy werkgewer uitgeken. Sy identiteitsdokumente, selfoon en beursie is by hom gevind.

Sy niggie, Reoné van Heerden, sê sy sleutels en ’n inkopiesak wat ook by hom was, was nie op die toneel ná sy dood nie.

Sy beskryf die oorledene as die vriendelikste mens met die mooiste hart. “Frikkie was Frikkie”.

Sy en ander familielede het vanoggend op kringtelevisiekameras van die Oorlogsmuseum gesien waar haar neef aangeval is en waar hy geval het.

Hulle sê hy was verstandelik ingeperk, maar werk die afgelope vyf jaar vir ’n verskaffer van DIY en het sy werk baie geniet. Hy het soms ’n saamry-geleentheid na sy woonstel in Genl. de Wet gekry en soms dié roete, waarop hy gisteraand aangeval is, huis toe gestap.

Die Parkweg-polisie ondersoek ’n saak van moord.

Enigiemand wat meer inligting oor die voorval het en die polisie kan help met inligting om die verdagte of verdagtes vas te keer, word versoek om kapt. Sebata Jafta Moseme by 082-526-2713 te skakel.

Mense met inligting of iemand wat gesien het wat gebeur het, kan ook Van Niekerk se neef konst. Chris Botha by 071-874-5109 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.