Hartseer en trane, maar ook humor en pret.
Dit is wat teatergangers kan verwag van die Eunice High School se nuutste produksie: A Great Celebration.
Dr. Niel van Niekerk snoer met dié vertoning al die spogelemente van dié skool se kultuur saam.
Met ’n groep van 14 akteurs van die teater-ensemble, twee onderwysers met goeie sangtalent, die ATKV-bekroonde koor en ook die trom- en ritme-ensemble van die skool word ’n unieke produksie aan die gehoor gebied.
Van Niekerk gebruik die eerste deel van die vertoning om hulde te bring aan mense van wie afskeid geneem moes word tydens die pandemie. Dit word gedoen op verskeie maniere met onder meer sang en kooroptredes.
Die ligter deel van die pandemie word ook hier belig.
Die tweede deel van die program beloof om die hoogtepunt van die aand te wees.
’n Pantomime, geskryf en saamgestel deur Van Niekerk, sluit 30 Eunice-onderwysers in. Kom kyk gerus hoe die skoolhoof, Zinette de Wet, en die adjunkhoof, Leon van Rensburg, hoofrolle in dié produksie vertolk.
Die pantomime bestaan uit vier sprokies wat ’n vars baadjie aantrek. Anton Esterhuyse is die musikale regisseur.
Kaartjies vir die vertoning van Maandag 10 Oktober (10:00), asook 12 en 13 Oktober (15:00), is by die skool beskikbaar. Skakel 051-444-1765 teen vandag (30/09) op die laatste.