Vertoning ’n lig in die tonnel

Die Vereniging vir Blindes in die Vrystaat bied op Saterdag 7 Oktober ’n vertoning deur Jo Black in die Sand du Plessis-teater aan.


Die Vereniging vir Blindes in die Vrystaat bied op Saterdag 7 Oktober ’n vertoning deur Jo Black in die Sand du Plessis-teater aan.

Michelle Horn van die ATKV-tak se Gemeenskapsteater sê hulle help met die logistiese reëlings rondom die vertoning en is opgewonde om op so ’n wyse by die vereniging betrokke te wees.

Die Vereniging vir Blindes bied ondersteuningsdienste vir mense met swak visie en blindes in die Vrystaat.

Dit bestaan sedert 1929 en het ’n lang tradisie van hulpverlening en ondersteuning. Geleenthede word ook geskep vir blindes om sosiaal te verkeer.

Dienste wat gelewer word, sluit in:

  • maatskaplike dienste, wat algemene ondersteuning en berading insluit;
  • oriëntering en mobiliteit, waar ’n kundige blindes help om met ’n wit stok rond te beweeg en hulle so onafhanklik moontlik maak; en
  • die lae-visiekliniek wat hulpmiddels aan blindes en swaksiendes verskaf.

Marianne Kruger van die vereniging sê hulle het twee ondersteuningsgroepe wat gereeld bymekaarkom om sosiaal tyd saam deur te bring. Somtyds word uitstappies gereël, of gassprekers woon geleenthede by om met blindes oor spesifieke onderwerpe te praat. Blindes moet vervoer word of moet ’n drywer kry om die motor te bestuur, wat groot uitgawes meebring.

Projekte waarby die vereniging betrokke is, sluit in ’n tuinprojek en oogskanderings by laerskole in townships deur Specsavers. Indien brille deur van die leerlinge benodig word, betaal die vereniging daarvoor.

Hierdie projek is al sedert 2012 aan die gang. Indien kinders vir spesialisbehandeling verwys word, kan die vereniging nie daarvoor betaal nie en word dié kinders na ’n staatshospitaal verwys.

Kruger sê dit is jammer, want indien ’n kind vinnig gehelp kan word, kan dit soveel probleme vir hom of haar oplos. “Ons word geborg deur die Witherow-trust vir hierdie projek, asook die tuin by die Laerskool Marang. Die departement van landbou help ook om die tuin te borg.

“Ons werk in en rondom Bloemfontein sover as Thaba Nchu. Ons is afhanklik van skenkings en borge om ons projekte en werksaamhede te finansier,” sê Kruger.

“Ons kry subsidie van die staat om ons te help met ons finansiële uitdagings. Dit is egter nie genoeg nie en daarom hierdie groot geldinsamelingspoging.

“Hierdie vertoning deur Jo Black sal ons geldelike situasie ’n groot hupstoot gee, veral met ons grootste uitgawes soos salarisse, kantoorhuur, petrol, ouditkostes en ander uitgawes. Glo my, die personeel is baie lojaal en werk nie vir groot salarisse nie,” sê sy.

  • Die vereniging het altyd ’n behoefte aan klere en nie-bederfbare kos. Van die mense wat die vereniging bystaan, kom na die kantoor in Bloemfontein se middestad vir basiese kosprodukte. Skenkings in dié verband is altyd welkom. Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R250 en is op webtickets.co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.