Vertroue in hoë min

’n Munisipale amptenaar met ’n bedenklike werkgeskiedenis is die Mangaung-metro se nuwe tussentydse waarnemende munisipale bestuurder.


’n Munisipale amptenaar met ’n bedenklike werkgeskiedenis is die Mangaung-metro se nuwe tussentydse waarnemende munisipale bestuurder.

Mzingisi Nkungwana is hoof van die departement van maatskaplike dienste, waar hy verantwoordelik is vir die Bloemfonteinse dieretuin wat weens die swak versorging van diere in Desember 2019 gesluit is.

Dit terwyl daar steeds niks by die Kwaggafontein-dieretuin aangaan nie.

Die verkeersafdeling, wat R17 miljoen in boetegeld moes afskryf, het ook onder hom geval, asook Bloemfontein se erg verwaarloosde begraafplase.

Nkungwana se aanstelling geld totdat die hofsake verby is waarby die metro tans betrokke is.

Dit sluit in die saak van Mxolisi Dukwana, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), teen die munisipaliteit, die metroraad, die speaker en Teboho Maine, vorige waarnemende munisipale bestuurder. Dié saak dien weer op 3 Maart in die hooggeregshof in Bloemfontein. ’n Tussentydse bevel van Dukwana verbied Maine om as munisipale bestuurder waar te neem of enige taak van die bestuurder se kantoor te verrig.

Op 3 Maart moet die respondente redes verskaf waarom die tussentydse bevel nie ’n finale bevel gemaak moet word nie.

Die raad het Maine as waarnemende munisipale bestuurder aangestel nadat ’n groot deel van die ANC-koukus op ’n raads­vergadering op 26 Januarie saam met die opposisie gestem het.

Die aanvaarde mosie was dat Sello More, wat toe as munisipale bestuurder waargeneem het, die pos moes ontruim en na sy pos as hoof van vlootbestuur en vullisverwydering terugkeer.

Die ANC was Dinsdag (22/02) op ’n spesiale raadsvergadering weer erg verdeeld, en 26 van sy raadslede het weer saam met die opposisie gestem, word betroubaar verneem.

Nkungwana is as tussentydse waarnemende munisipale bestuurder aangestel toe hy op die geslote raadsvergadering 62 stemme op hom verenig het, met 25 teen hom en 2 raadslede wat buite stemming gebly het. Die naam van Dukwana se voorkeurkandidaat, David Nkaiseng, hoof van korporatiewe dienste, was ook op die tafel. Hy het 25 stemme gekry.

Johan Pretorius, DA-koukusleier, het sy kommer daaroor uitgespreek dat Mxolisi Siyonzana, uitvoerende burgemeester, sedert begin November nog nie ’n permanente munisipale bestuurder aangestel kon kry nie. Pretorius sê die DA kon dit wel op die geslote raadsvergadering regkry dat ’n ondersoek teen Nkaiseng ingestel gaan word.

Luidens sy geskrewe toespraak is die DA baie bekommerd oor die bedrieglike wyse waarop Nkaiseng sy departement bestuur.

“Die bewerings van die speaker dat Nkaiseng die aanstelling van 52 amptenare in haar kantoor versoek en goedgekeur het, ook dat hulle betaal word (sonder dat sy hierin geken is), is onrusbarend.

“Van die tydelike werkers wat van Januarie af aangestel is, het nog nooit vir werk opgedaag nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.