Die Ou Presidensie, wat erg verwaarloos geraak het.Foto: Lientjie Mentz


Die Vrystaatse Provinsiale Regering moet tot verantwoording geroep word om geld beskikbaar te stel om die Ou Presidensie in Bloemfontein te herstel.

Só sê Gerhard Pretorius in ’n verklaring van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Erfenisstigting ná ’n vergadering wat op 16 Augustus gehou is.

“Die Ou Presidensie se dak is tien jaar gelede vervang, maar nou stort water die gebou binne weens swak of byna geen instandhouding,” sê hy.

“Daar is gate in die plafonne, krake in die mure, opslagbome wat uit geute groei, asook skade aan die houtvloere en kosbare Persiese tapyte. Ons kon tot nou toe geen erfenisbestuursplan of bateregister opspoor nie.”

Die FAK en Erfenisstigting het saam met die Vrystaatse kultuurgemeenskap, politieke partye en die Ou Presidensie- Historiese Vereniging beswaar gemaak teen die wanbestuur van historiese erfenisterreine.

Pretorius sê ’n prokureursbrief is aan die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, waaronder die museum val, gerig om ’n vergadering met die LUR te eis. Verteenwoordigers van dié departement het op die vergadering op 16 Augustus onderneem om uit te vind of daar geld vir instandhoudingsprojekte bekom kan word.

Anton Roodt sê dat Roodt-argitekte reeds 20 jaar gelede ’n verslag oor die Ou Presidensie se dak saamgestel het.

Hy sê dit is ’n probleem wat so ver terug soos 1885 strek. Hy sê die Ou Presidensie is ’n verklaarde erfenishulpbron en word deur die Nasionale Erfenishulpbronwet beskerm.

Roodt-argitekte het destyds voorgestel dat ’n dak bo-oor die bestaande dak opgerig word, en dit is in 2012 gedoen.

“In die afgelope tien jaar lyk dit of daar min of selfs geen onderhoud gedoen is om die geute skoon te maak nie.”

’n Kontrakteur het in Julie die dak en geute nagegaan en gevind dat waterskade aan die struktuur en afwerkings veroorsaak is deur die gebrek aan onderhoud – in besonder die skoonmaak van geute en aflei­pype.

Hy het bevind die geute is met sand en voëlmis gevul, en plante groei op plekke uit die geute.

Daar is ook bevind dat die gewig van die grond in die geute die struktuur beskadig en dat dele van die geute by die some losgekom het, wat veroorsaak dat water teen die fasade afstroom.

Verder is bevind dat reënwater nie meer deur geute weggevoer word nie, maar in die plafon inloop, wat skade aan die plafonne, mure en ligte veroorsaak.

Roodt sê die gebreke wat in die verslag uitgewys is, kan deur ’n bekwame kontrakteur herstel word.

Reeds in sy verslag in 2002 het Roodt voorgestel dat die private sektor ’n groter rol in die werking en onderhoud van die gebou speel en dat die Ou Presidensie- Historiese Vereniging oor so ’n plan moet toesig hou.

Armand Cloete van die VF Plus sê hy het met die LUR van finansies en die LUR van sport, kuns en kultuur gepraat, en hulle het onderneem om te bepaal of die R91 000 wat vir die eerste fase van die herstelwerk benodig word, iewers gevind kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.