Kobus Marais, die DA se skaduminister vir verdediging en oorlogsveterane, en DA wyksraadslid Werner Pretorius Donderdag (24/11) by ’n groot opening in Tempe se heining. Foto: Lientjie Mentz


Daar is baie werk aan infrastruktuur wat aandag verg, maar daar is ook talle positiewe aspekte by die weermagbasisse in Bloemfontein.

Só het die DA se skaduminister vir verdediging en oorlogsveterane, Kobus Marais, gesê ná ’n besoek aan Bloemfontein Donderdag (24/11) en Vrydag.

Marais het die Bloemspruit-lugmagbasis, die Tempe-weermagbasis en De Brug besoek om te kyk na uitdagings op die terreine.

“Dit is nie net in Bloemfontein wat daar agteruitgang van weermagbasisse se bates en infrastruktuur is nie, dit is ’n nasionale probleem,” het hy gesê.

Werner Pretorius, DA-wyksraadslid van woonbuurte wat aan Tempe grens, het Marais gaan wys waar ’n groot gat in die heining in Reyneckelaan in Heuwelsig is.

Dit is duidelik dat kwaaddoeners deur hierdie gat klim en ook dat daar al vorige pogings was om die heining te herstel.

Pretorius verduidelik daar is baie probleme met misdaad in hierdie gebied naby die N1, asook aan die kant van Brandwag langs die gholfbaan op Tempe.

“Kwaaddoeners ontsnap deur die heining, deur Tempe,” verduidelik Pretorius.

Dit is veral die groot grasveld tussen die verskillende eenhede wat nie na behore gemoniteer kan word nie.

Nog ’n groot probleem is die sonkragligte rondom die basis wat nie werk nie en die heining wat snags in donkerte gehul is.

Kol. Monde September, waarnemende bevelvoerder van Tempe, het Maandag ná die DA se besoek gesê hulle sal ondersoek instel na die gat in die heining.

“Ons wil ook graag met lede van die gemeenskap vergader. Hulle is ons oë aan die buitekant van Tempe en kan ons help om misdadige elemente hier te keer.”

September sê die heining om Tempe is baie oud en hy sou verkies dat daar ’n muur om die weermagbasis opgerig word.

Hy sê hulle wil met Centlec in gesprek tree om te kyk of dié instansie kan help om die ligte om die basis weer te laat werk.

Marais sê daar is op parlementêre vlak ’n besluit geneem dat die instandhouding van weermagbasisse weer by die basisse self onder die bevelvoerders moet resorteer.

Dit kom nadat die instandhouding van infrastruktuur en geboue lank onder die provinsiale en nasionale departemente van openbare werke geval het.

“Die probleem is dat die funksie terug na die weermagbasisse geskuif het, maar nie die begroting nie,” sê Marais.

Hy sê ’n verslag sal nou deur die komitee van verdediging opgestel word wat aan die parlement voorgelê word sodat die probleme wat geïdentifiseer is, gedokumenteer en opgevolg kan word.

Hy sê een van sy bekommernisse by Bloemspruit is die dakke, asook isolasie­materiaal by die loodse waar die helikopters geberg word.

“Daar is probleme met die dakke en duur tegnologie wat aan skade blootstel word.”

Marais het egter ook lof vir sommige van die eenhede op Tempe.

“Pantserskool is regtig baie netjies en die personeel daar moet ’n pluimpie kry. Die eenheid gebruik sy eie grassnyers en brandstof om die terrein netjies te hou, en dit is prysenswaardig.”

Hy sê ook 3 Militêre Hospitaal is baie netjies.

“Ek is aangenaam verras met hoe dit lyk. Ongelukkig is daar ook ’n probleem met poste wat nie gevul is nie en veral spesialisdienste wat nie beskikbaar is nie.

“Dié hospitaal lewer ’n reuse-bydrae tot virusinfeksiebeheer in die land.

“Die hospitaal moet oor die toepaslike toerusting en personeel beskik om die werk daar beter te kan doen.”

Marais sê dit is uiters belangrik dat die land se militêre bates beskerm word.

You need to be Logged In to leave a comment.