VrystaatKroon

Vervoermaand sluit af met ‘n snik en ‘n traan in die Vrystaat, eerder as gejuig

Die R59-ompad naby Viljoenskroon.
Die R59-ompad naby Viljoenskroon, waarvan ‘n 200m-gedeelte, wat drie jaar gelede oorstroom is, steeds onder water is. FOTO: Verskaf

VRYSTAAT – Geen noemenswaardige vordering kan bespeur word wat betref die herstel wat aan talle Vrystaatse paaie vereis word nie, en Vervoermaand, Oktober, het dus in dié provinsie nie op ‘n hoë noot afgesluit nie.

Vrystaat Landbou (VL) het in ‘n verklaring selfs die standpunt ingeneem dat boere geen rede het om Vervoermaand te vier nie, neem ‘n mens in ag dat boere die mislukte of gebrekkige pogings van die regering moet beredder deur paaie self in stand te hou ter wille van boerdrybedrywighede. Die VL het in Februarie reeds ‘n memorandum aan die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer oorhandig, rakende die haglike toestand van die Vrystaat se paaie.

“Terwyl werkskepping ‘n nasionale noodsaaklikheid bly, kan dit nie die sleutelprestasie-aanwyser (KPI) vir die instandhouding van kritieke infrastruktuur wees nie,” sê Francois Wilken, president van die VL.

“As die provinsiale regering werklik ernstig was oor werkskepping, sou dit begin deur sy eie bopunt-swaar personeelstelsel te herstruktureer en die talle dringend benodigde padskraper-operateurs en handarbeiders aan te stel,” sê hy.

Volgens die VL word boere gedwing om afgetrede padskraper-operateurs op eie koste aan te stel net om agteruitgaande grondpaaie te laat skraap – en dit is slegs wanneer ‘n staatsbeheerde padskraper toevallig werkend is.

“Die gesentraliseerde bestuur van die geel vloot, tesame met voorkeur-verkrygingstelsels, het gelei tot die ineenstorting van onderhoud en herstelwerk aan noodsaaklike staatsvoertuie en -toerusting.”

Wilken kritiseer die uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) en sê dat hoewel die doelwit daarvan, om plaaslike werk te verskaf, prysenswaardig is, dit uiteindelik die armste burgers afhanklik hou van die regering se subminimum loontoelae; en dikwels met politieke bravade deur lojale kaders versprei word.

‘n Spoor van mislukte projekte, swak bestuur en verkwiste geld – alles onder die vaandel van werkskepping – laat min oor om hierdie Vervoermaand te vier. – Francois Wilken

Hy waarsku verder dat die kontrakteursontwikkelingsprogram, nog ‘n edele projek op papier, soortgelyk misbruik is.

“VL het, op aandrang van sy lede, die departement herhaaldelik gewaarsku oor die swak en vertraagde vakmanskap van aangestelde kontrakteurs. Projekte soos die R709-Tweespruit–Excelsior-pad en die onlangs beëindigde R708-Clocolan–Marquard-pad is uitstekende voorbeelde.”

Wilken sê dat indien die departement gehoor gegee het aan die VL se oproep om onafhanklike raadgewende ingenieurs aan te stel om hierdie projekte te bestuur en toesig te hou, soos dit internasionaal beste praktyk is, hierdie mislukkings vermy kon gewees het.

Volgens die VL is nog ‘n voorbeeld van regeringsmislukking die R59-ompad naby Viljoenskroon, waar ‘n 200m lange gedeelte van die oorspronklike pad, wat drie jaar gelede oorstroom is, steeds onder water is.

“Geen werk is nog aan die pad gedoen nie, en die ompad deur die dorp se nywerheidsgebied laat die paaie in puin.

“‘n Spoor van mislukte projekte, swak bestuur en verkwiste geld – alles onder die vaandel van werkskepping – laat min oor om hierdie Vervoermaand te vier,” meen Wilken.

Volgens Wilken ly gemeenskappe, word ekonomiese groei gesmoor en versterk misdadige sindikate hul greep weens die wanbestuur.

“As die hoofdryfkrag van ekonomiese groei in die provinsie, voed ons boere die nasie en verskaf meer as 70 000 werklike boerderywerkgeleenthede in die Vrystaat. As boerderywinsgewendheid aanhou afneem weens regeringsideologie, sal meer werkgeleenthede verlore gaan en voedselsekerheid bedreig word,” sê Wilken.

Ondanks die uitdagings verwelkom die VL die vordering wat gesien is met paaie wat na Sanral oorgedra is, danksy volgehoue druk van georganiseerde landbou, en prys die InfrastruktuurSA-projek wat kritieke vervoerroetes vir voorkeur-aksie in die provinsie identifiseer.

“Dit is die positiewe ontwikkelings wat ons kan erken,” sluit Wilken af.

You need to be Logged In to leave a comment.