Verwaarloosde beloftes verniel ’n kosbare kans

Ek glo kwalik my oë toe ek hulle onlangs voor die aftreeoord in die stortreën sien staan – die alombekende bedelaar en sy hond. Die water waai by my venster in toe ek stilhou en verstom vra wat hulle hier in die storm doen.


Ek glo kwalik my oë toe ek hulle onlangs voor die aftreeoord in die stortreën sien staan – die alombekende bedelaar en sy hond. Die water waai by my venster in toe ek stilhou en verstom vra wat hulle hier in die storm doen.

“Ag, goeiemiddag, Mevrou,” kom die, soos altyd, nederige groet.

“Gister het ’n vroutjie hier stilgehou en gesê sy wil graag vir my ’n stel potte, en vir Jackie ’n warm kombers, kom afgee. Sy sou vanoggend tienuur hier wees.”

Die klok slaan vieruur toe ek op my horlosie kyk.

’n Leeftyd gelede is ’n familielid die koshuisvader by ’n bekende Vrystaatse skool. Aan die einde van die kwartaal staan ’n tienjarige kind mateloos opgewonde en wag vir sy pa.

Hy het hom ’n paar jaar gelede laas gesien. Teen vyfuur die middag sit hy alleen op sy koffer by die voordeur. Nét hy nog oor, ’n stillewe-portret op die trap.

Laataand word die pa opgespoor. Hy moes nog laat weet het, hy en sy nuwe gesin is alreeds by die see. ’n Kuier gedurende Desembermaand gaan beter werk.

’n Vriendin bel my die dag toe ek verjaar. Sy onderneem om my vroeg die volgende week te neem vir koffie, sodat ons dit kan vier. Drie maande later, en die koffie het al koud geword.

Ek betrap myself, siel-skuldig ook hieraan. Ek loop ’n af­getrede kollega raak en verduidelik oordrewe dat haar Kersgeskenk nog op my voorhuistafel lê. Die laaste week van Januarie is al klaar verby.

En só stel ons almal uit, met gevolge wat in ons alledaagse doen en late meesal vir onsself niksseggend lyk. Vir ’n bedelaar is môre mos maar nog ’n dag.

Dalk, wie weet, sus die pa sy gewete met die hoop dat sy tienjarige seun ontuis gaan voel by sy nuwe gesin, vir hom in elk geval heeltemal onbekend. Tien teen een meen my vriendin dat ek bewondering koester vir haar lewensuitkyk – werk altyd eerste, plig voor plesier.

En dalk vertel ek vir die rooi-gestrikte pakkie in my voorportaal dat ek net eers weer in die nuwe jaar tot verhaal wil kom, voordat ek ’n ekstra draai gaan ry.

Die tragiek en verwoesting van die afgelope paar jaar het weerloosheid gesaai. Min aardlinge kon uit die kloue van verlies ontsnap.

Welvaart, drome, selfbeelde en trots het getuimel teen die spoed van lig.

Dis dalk nog vroeg genoeg in die nuwe jaar om te belê in ’n voorneme van omgee en hou by ons woord.

Die een ding waarvan geen pandemie ons, wat nog hier is, kon beroof nie, is tyd.

Deur die leë beloftes weg te pak en enkele minute met mekaar deur te bring gee vir ons helaas die kans om, in Atticus se woorde, mekaar nie bloot raak te síén nie, maar om te gee vir mekaar, so eenvoudig soos die warmte van die son, op ons te vóél.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.