Veteraan-atleet Henk le Roux (61) gaan einde April 100 km deur die Karoo stap om geld in te samel vir Engo se Huis Amor.
Le Roux neem ywerig deel aan meestersatletiek en het al die Comrades-marathon gehardloop, maar dit sal die eerste keer wees dat hy só ’n lang staptog aandurf. Die Bo-Karoo Vasbyt strek oor 110 km, wat in vier dae afgelê moet word. Die staptog word oor verskillende roetes naby Orania in die Noord-Kaap aangepak.
Le Roux het in 2020 die Free State Running Club begin waar ’n hele groep kinders van Ons Kinderhuis en ander huise soos die meisies van Huis Amor deelneem.
Susan de Wee, geliefde huismoeder van Huis Amor, sê daar woon nou tien meisies tussen die ouderdom 14 en 18 jaar.
“Met die geld wat Henk vir ons met dié vasbyt wil insamel, wil ons graag die trampolien en apparate opknap,” sê sy.
“Dit is vir ons belangrik dat die meisies buite speel en kuier. Ons braai gereeld buite in die tuin waar al die meisies lekker saamkuier.”
De Wee sê dit is vir haar belangrik dat Huis Amor ’n ware tuiste moet wees vir die meisies.
Vir die vasbyt-staptog van 25 tot 29 April oefen Le Roux sowat 8 km tot 10 km per dag en so 20 km oor naweke.
Deelnemers aan die Bo-Karoo Vasbyt kies om te stap, draf of fiets te ry oor verskillende afstande.
Mense wat Henk per kilometer wil borg, kan Jezel Tshanga, ’n maatskaplike werker van Engo verantwoordelik vir Huis Amor, by 082-449-0106 bel.