Veteraan speel vir SA in Portugal

Joey Lubbe, ’n lid van die Universitas-tennisklub in Bloemfontein, is gekies vir die Suid-Afrikaanse veteranespan wat in Augustus in Lissabon, Portugal, aan die ITF-meesters se wêreldkampioenskapstoernooi gaan deelneem.


Joey Lubbe, ’n lid van die Universitas-tennisklub in Bloemfontein, is gekies vir die Suid-Afrikaanse veteranespan wat in Augustus in Lissabon, Portugal, aan die ITF-meesters se wêreldkampioenskapstoernooi gaan deelneem.

Lubbe, ’n rekenmeester in die Rosestad wat in April haar 64ste verjaardag gevier het, is as kaptein van die vrouespan aangewys wat in die 60+-ouderdomsafdeling gaan meeding.

“Dit is ’n groot voorreg om gekies te word om jou land te verteenwoordig en dan boonop as kaptein aangewys te word. Ek sien baie uit,” sê Lubbe.

Sy het op ’n jong ouderdom begin tennis speel en het al op hoërskool goed in die sport begin presteer.

Sy het egter ná skool opgehou weens haar werk.

Ná ’n lang afwesigheid van die sport het sy as 38-jarige weer die raket opgetel en by haar plaaslike tennisklub aangesluit.

“Ek was eers by Ramblers ’n lid, maar nadat hulle hul tennisgeriewe verwyder het, het ek oorgeskuif na die Universitas-tennisklub.”

Ná ’n besonder goeie seisoen waarin sy in verskeie toernooie oor die land heen gespeel het, is sy einde April by die Suid-Afrikaanse veteranespan ingesluit.

Ter voorbereiding vir die wêreldkampioenskapstoernooi wil Lubbe nie haar roetine te veel verander nie.

“Dit klink snaaks, maar ek oefen eintlik nie so gereeld nie. Ek speel baie wedstryde oor naweke, maar my werk hou my te besig om deur die week op die baan te kom.”

Hoewel sy baie teen vroue in haar ouderdomsgroep speel, hou sy daarvan om haarself te toets.

“Ek speel gereeld teen van die jong manne hier by die klub en ek en my skoonseun het ’n ruk terug aan ’n gemengde dubbelspel-toernooi in die 30+-ouderdomsgroep deelgeneem, waar ons derde geëindig het.

“Ek dink die beste manier om te verbeter is om te speel teen mense wat beter as jy speel.

“Ek het wel ’n balmasjien aangeskaf vir die paar dae waarop ek tyd het om by die baan uit te kom.”

Lubbe hoop om met die wêreld se bestes mee te ding, maar waar sy op die ranglys eindig, maak nie te veel vir haar saak nie.

  • “Dit gaan my eerste keer wees dat ek aan die wêreldkampioenskapstoernooi gaan deelneem en ek wil net seker maak dat ek elke oomblik daarvan geniet. Ek wil nie onnodige druk op myself plaas nie.” Die kampioenskapstoernooi strek van 13 tot 19 Augustus. Die Suid-Afrikaanse spanne vertrek op 9 Augustus na Portugal, waar hulle teen 20 ander lande se spanne in ’n rondomtalieformaat sal meeding.) Die ander spanlede is Sally Yatt (Gauteng) en Sharon Holland (Wes-Kaap).) Die spelers moet self hul uitgawes vir die toernooi dek.

Dit is ’n groot voorreg om gekies te word om jou land te verteenwoordig

– Joey Lubbe

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.