Stappers wat tree vir tree tydens die Victoria-Wes Camino tot die Red ’n Plaas, Red ’n Gemeenskap-rampfonds wil bydra, kan nog tot 2 April inskryf.
Diegene wat hetsy op sy eie, of as deel van ’n groep, skoolspan, gemeente of onderneming wil inskryf en nie die Victoria-Wes Camino kan meemaak nie, kan vir die virtuele uitdaging inskryf waaraan nie ’n spertyd gekoppel is nie.
Die Victoria-Wes Camino vind vanaf 6 tot 12 April vanaf Victoria-Wes tot Dombietersfontein in die distrik plaas waartydens stappers ’n afstand van 139 km oor sewe dae aflê. Ongeveer 100 stappers kan deelneem.
Rampfonds verleen onmiddellike hulp aan landelike gemeenskappe
Dit is ’n projek van die NG kerk Sinode in die Noord-Kaapland en word in noue samewerking met die Agri Noord-Kaap Foundation en Tankwa Camino aangebied. Dit word deur die Caritas Gemeenskapfokus administreer.
Die rampfonds het ten doel om onmiddellike humanitêre en pastorale hulp aan landelike gemeenskappe te verleen met rampe in die Noord-Kaap.
Plattelandse gemeenskappe in die Noord-Kaap word gereeld deur droogtes en ook vloede langs die laer Oranjerivier geteister, met ’n drastiese toename in veldbrande. Hierdie rampe het ’n langdurige invloed.
Die NG kerk in Noord-Kaapland het in samewerking met Agri Noord-Kaap sedert 2019 ’n bewese rekord van hulpverlening in hierdie streek.
Sowat R13,1 miljoen is ingesamel, en R13,1 miljoen is versprei ten bate van verligting aan hierdie plattelandse gemeenskappe.
Virtuele deelname stu rampfonds
Om aan die virtuele stap ten bate van hierdie rampfonds deel te neem, besoek rednplaas.org.za/virtuele-stap/ waar jy aanlyn registreer en R300 per persoon betaal.
Vir die virtuele stap kan jy ook ’n spesiale hemp koop om mee te stap. ’n Roete en afstand van jou eie keuse kan gevolg word.
Ná afloop van die uitdaging ontvang deelnemers ’n sertifikaat.
Die bedrag wat betaal word om deel van die werklike staptog te wees, sluit sommige etes in, asook die vervoer van bagasie na die volgende punt tydens die staptog. Stappers hoef net ’n dagsak saam te dra.
Beperkte warm water word by elke oornagkamp verskaf om mee te was. Geen storte is beskikbaar of word toegelaat nie.
Drinkwater word elke dag verskaf.
Kry meer inligting
Besoek rednplaas.org.za; of
tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino; asook
Red ’n plaas Red ’n gemeenskap op Facebook.