‘n Gesin wat Sondag in Mimosa Mall in Bloemfontein was met die rooftog net ná 12:00 by HDL-juweliers, sê dit was ‘n skrikwekkende ervaring.
Sarieta Gerber, haar dogter Liané en haar man, Hein, was in Totalsports op Sondag 16 November.
“Liané het ‘n T-hemp gesoek en Hein was buite die winkel toe die personeel begin om die roldeur toe te maak. Ek het eers gedink dit is seker toemaaktyd, toe ons iets hoor klap en ‘n man met ‘n geweer in sy hand uit die juwelierswinkel kom.”
Sy sê hulle het mense hoor gil en hulle het saam met die personeel agter in die winkel gaan skuil.
“Ek het ‘n vriend wat in die sekuriteitsbedryf is, gebel om te vertel van die rooftog.”
Hein, wat buite gestaan het, vertel ‘n man met ‘n masker aan het so 3m van hom af gestaan. Hy het gewonder hoekom die man ‘n masker dra. Hein sê hy het hom bly dophou.
Toe Hein besef dit is ‘n rooftog, was Totalsports en die ander winkels se deure reeds toe en het hy ‘n kans gesien en onder die roldeur van die naburige winkel Footgear, wat aan die toemaak was, geglip. Nadat hy binne was, het ‘n personeellid die roldeur heeltemal toegemaak.
Op Footgear se kringtelevisie-videomateriaal kan gesien word hoe die personeel aanvanklik buite die winkel staan en kyk na wat aangaan. Sodra hulle besef daar is ‘n rooftog, begin hulle die deur toemaak, en hardloop hulle na die agterkant van die winkel. Dan kom Hein en skuif op sy maag onderdeur die roldeur.
Sarieta sê in Totalsports het hulle en ander klante seker so 15 minute binne die winkel geskuil.
“Ek was baie bekommerd oor Hein. Ons het mense hoor gil en ander hard hoor praat. Daar was geluide wat soos geweerskote geklink het. By ons in Totalsports was daar mense met ‘n klein seuntjie. Ons het almal groot geskrik.”
Hein het die volgende dag teruggegaan en gevra hoekom hulle die deur nooit tot onder laat sak het nie, vertel Sarieta. Die bestuurder sê toe vir hom hy het nie die deur gestop nie: “It must have been God.”
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Lees volledige berigte oor die rooftog en die verloop van die ondersoek hier en hier.


