Video’s: Polisie in slegte lig

Die man wat op Sondag 9 Februarie ’n video van polisielede in die Bainsvlei-polisiekantoor geneem het nadat hulle hom na bewering nie wou help deur ’n verklaring by hom af te neem nie, het met die polisie kontak gemaak.


Die man wat op Sondag 9 Februarie ’n video van polisielede in die Bainsvlei-polisiekantoor geneem het nadat hulle hom na bewering nie wou help deur ’n verklaring by hom af te neem nie, het met die polisie kontak gemaak.

Die video, wat wyd op die sosiale media versprei het, wys hoe polisielede ontsteld reageer toe die man hulle afneem nadat hulle hom en sy vrou blykbaar nie wou help nie.

Volgens brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het die man en vrou na die polisiekantoor gegaan om ’n verkeersongeluk aan te meld. Volgens die polisieverslag is die vrou bygestaan om die voorval aan te meld toe die man begin het om ’n video te maak.

Die waarnemende polisiebevelvoerder van Bainsvlei het met die man oor die maak van die video gepraat en volgens die polisieverslag het hulle tot ’n vergelyk gekom.

In die video sê die man dat hy nie die video sal uitstuur nie, wat hy toe wel gedoen het.

Makhele het Dinsdagaand bevestig dat die man met die Bainsvlei-polisiekantoor kontak gemaak het sodat die saak verder ondersoek kan word.

Dit kom kort nadat twee beamptes van die Heidedal-polisiekantoor Vrydag in die Bloemspruit-landdroshof verskyn het.

Sers. Suzan Shuping en konst. Lucia Marumo het na bewering op Sondag 19 Januarie Steffney Booysen van Heidedal aangerand nadat sy die twee beamptes genader het om ’n huishoudelike dispuut aan te meld. ’n Stryery het tussen die polisiebeamptes en die slagoffer uitgebreek.

’n Video van die voorval het op die sosiale media versprei.

Booysen het glo gesê dat die polisiebeamptes haar aangerand het nadat sy gedreig het om hulle te verkla omdat hulle haar nie wou help nie.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die voorval ondersoek en die saak aan die hof oorhandig.

Die twee beamptes is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat, en die saak is na 7 Maart uitgestel sodat die direkteur van Openbare Vervolging kan besluit of die klagte wat ingedien is, toepaslik is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.