Indien iemand my sou vra om Moedersdag vanjaar in te kleur, sal ek dit, sonder om te skroom, met ’n geel kleurkryt doen.
Ma was ’n geel mens. Sedert my klein dae het Ma haar troudag altyd in geel vertel. Haar en Pa se sprokie het in Desember begin, want, het Ma gesê, dit was die beste blomtyd van die geel frangipani’s in Stellenbosch. Vir baie jare daarna het Ma altyd op 18 Desember die verpoeierde bleek trouruiker uit die trousseaukis gehaal. Wanneer sy dit in haar hande hou, het daar geel sonstrale in die onthou van haar oë gedans.
Ma het nie dieselfde liefde vir die Karoo gekoester as Pa nie. Sy was ’n stadsmens. Ek was maar vyf toe die gemeente ons langs die stofpad in die Oos-Kaap groet.
Die motor se neus het in die rigting van Pretoria gedraai. Pa was as herder op pad na ’n nuwe kudde in Transvaal.
Ma het soos ’n goudgeel sonneblom uitgestaan langs die vaal pad terwyl die Kinderkrans vir hulle sing. Flambojant in ’n songeel pakkie en pildooshoed, kompleet soos Jackie Onassis getooi. Sy was vir my so mooi.
Voor die nuwe pastorie in Pretoria het ’n sagte geel verrassing op Ma gewag. Van hoek tot kant voor die lang huis het geel frangipanibosse soos vanuit ’n trein se vensters gehang. Ma het gelag. Ek dink sy het geglo dis net vir haar geplant.
Ma se liefde vir geel het ook op my kom lê. My kleintydrok wat ek die beste onthou, was ’n vrolike geel krimpelien-skepping vol wit magrietjies wat lag.
Op my troudag het ek gedink Ma sal spog in geel. Sy het egter koninklik mooi gelyk in haar sagte roospienk rok.
Sy het gesê ék moet die een wees wat op daardie dag soos sonskyn straal. Tog het Ma met armsvol verskillende goue blomme opgedaag en die feessaal in die mooiste geel versier. Vir my.
Pa en Ma het gaan aftree in Potchefstroom. Met my eerste kuier van ver oor die water heen, het daar ’n enkele roos op haar bedkas gestaan, die eerste pluksel van ’n geel roosboom wat Pa vir haar in die oudwordtuin geplant het.
Die dag toe ons Ma vir oulaas groet, wou ek so graag ’n geel blom wegbêre saam met haar. Die gode was my goedgesind. Toe ek daardie oggend die afdraai van die snelweg af neem na Parys se kant, het ’n enkele opslag-sonneblom iewers van nêrens skielik langs die pad gestaan. Ma het geglo in eenvoud. Een sonneblom sou meer as genoeg wees vir haar.
My kinders weet ek hou ook van geel. Al woon hulle ver, kry ek dikwels ’n kiekie of ’n vers van ’n sonneblom oor die pos.
Ek het al ruikers vol daarvan. Vanjaar op Moedersdag, trek ek uit hierdie vrolikheid vir elke ma ’n stukkie van die son. ’n Goudgeel Moedersdag wens ek julle toe.